Plaaslike liggaamsbouer op pad na VSA

Esté Lubbe, 'n plaasmeisie van Randfontein gaan haar spiere bult in die VSA.

Esté Lubbe, ‘n liggaamsbouer van R’fontein vertrek binnekort na Kalifornië in Amerika om Suid-Afrika by die NABBA/ WFF Wêreldkampioenskappe te verteenwoordig.

Dié 29-jarige plaasmeisie is opgewonde om vir die eerste keer oorsee te gaan en sy sien uit om teen liggaamsbouers uit 25 lande te kompeteer.

“Ek het nooit gedink dat ek so ver in liggaamsbou sou vorder nie. Ek het net daaroor gedroom om gekies te word vir die SA-span,” het sy gesê.

Sy het vyf jaar gelede begin om ernstig te oefen, maar haar twee kinders is intussen gebore en sy moes ekstra hard werk om weer op die vlak te kom waar sy graag wou wees.

“Ek het altyd op die plaas met trekkerbande geoefen. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg en ek glo mens het nie noodwendig duur toerusting nodig om te oefen nie. Ek het in Desember vir die eerste keer by ‘n gimnasium aangesluit en ek het vir die eerste keer ‘n oefenmaat.”

Esté Lubbe, ‘n liggaamsbouer van R’fontein vertrek binnekort na Kalifornië in Amerika om Suid-Afrika by die NABBA/ WFF Wêreldkampioenskappe te verteenwoordig. Foto: Ingestuur

Sy was nog altyd sportief, maar het na haar troue ‘n bietjie gewig opgetel en het toe weer begin oefen om dit af te skud. Die oefengogga het haar gebyt en sy het haarself aanhou uitdaag om harder te oefen.

Haar gunsteling aspek van liggaamsbou is die dramatiese grimering, blink bikini’s en hoëhakskoene wat sy tydens die kompetisies kan dra. “Ek dink die verhoog is amper die enigste plek waar dit aanvaarbaar is om so glansryk aan te trek. Liggaamsboukompetisies is waar mode en fiksheid mekaar ontmoet.

“Om ander vroue en ma’s te inspireer is beslis wat my motiveer om elke dag hard te werk om my drome te bewaarheid. Ek het ’n passie daarvoor ontwikkel en ek het in 2013 besluit om aan my eerste kompetisie deel te neem. Ek was van die begin af goed geplaas in die kompetisies, maar my droom was om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem. Dit voel steeds of ek droom,” het Esté gesê.

Sy vertrek op 30 Oktober Amerika toe en die kompetisie vind op 4 November plaas. Daar lê wel baie harde werk vir haar voor, want sy moet hard oefen in die gimnasium en sy moet borge kry.

“Ek spandeer ’n minimum van 10 uur per week in die gimnasium. Die gesond eet kry my soms onder, maar my doelwit om op ’n internasionale vlak te kan deelneem is nou belangriker as die bakkie nagereg op ’n luilekker Sondagmiddag,” het sy gespot.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za  (please remember to include your contact details in the email) or phone us on 011 693 3671.

Www free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites

Roodepoort Record

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

Exit mobile version