‘n Leeu in Teine se midde

Buiten die struktuur is Deon van Rensburg ook van plan om die spangees te verander.

Deon van Rensburg, ’n voormalige Goue Leeus-speler is reg om Randfontein Rugbyklub (Teine) se eerstespan na nuwe hoogtes te neem.

Deon, 36, gaan twee jaar lank die hoofafrigter van Teine se eerstespan wees en hy is opgewonde om sy termyn in November af te skop.

Deon van Rensburg, ’n voormalige Leeus-speler, gaan twee jaar lank die hoofafrigter van Teine se eerstespan wees en hy is opgewonde om sy termyn in November af te skop. Foto: Jaco-Mari Futcher

Hoewel dit Deon se eerste afrigterspos is, het rugbyspanne hom al voorheen gekonsulteer. Hy glo sy agtergrond in klub- en professionele rugby sal help in dié opsig.

“Dit is ‘n positiewe uitdaging, want alles gaan verander – van bestuur tot struktuur en selfs die span se wedstrydstrategie. Die eerste groot verandering is Teine se eerste voorseisoen wat ’n fiksheidperiode van ses weke behels,” het Deon gesê.

Deon het gesê dat alle R’fonteiners welkom is om gedurende die voorseisoen by Teine aan te sluit. Potensiële eerstespanspelers sal gedurende die tydperk geïdentifiseer word.

Deon van Rensburg, ’n voormalige Leeus-speler, gaan twee jaar lank die hoofafrigter van Teine se eerstespan wees en hy is opgewonde om sy termyn in November af te skop. Foto: Jaco-Mari Futcher

“Buiten die struktuur is ek ook van plan om die spangees te verander. Soos enige rugbyklub het Teine ’n reputasie. Ek wil ‘n spankultuur vestig wat by mense respek afdwing omdat ons ‘n goeie spel speel. Ek wil binne dié twee jaar die span se naam opbou.”

Volgens Deon is die klub se tema vir 2019 ‘bring die hoop weer terug’ en is hy van plan om presies dit te doen.

“Rugbyspelers en die res van die bestuur moet ’n dienende hart hê. Dit beteken dat God vir ons ’n talent gegee het en dat ons voluit moet gaan en die beste daarvan moet maak. My doelwit is om elke Teine-speler as mens en as speler te help groei,” het Deon gesê.

Hy beplan om al die klub se spanne op dieselfde struktuur te kry. Hy het gesê dat professionele en klubrugby in sommige opsigte verskil. Hoewel die intensiteit verskil, verskil die struktuur nie. “Die tempo verskil, maar klubspelers kan dit tot hul voordeel gebruik wanneer hulle besluite op die eld moet neem,” het hy bygevoeg.

Deon het vir meer as ses jaar professioneel rugby gespeel. Hy het van 2009 tot 2014 vir die Leeus gespeel nadat hy vir die Luiperds gespeel het. “Een van die hoogtepunte van my rugbyloopbaan was toe ek in 2011 deel was van die Curriebeker-wenspan. Dit was ironies dat ons gewen het, want die vorige jaar het ons byna al ons wedstryde verloor. Ek weet hoe die Teine tans voel want ek was self daar, maar saam gaan ons van dié rugbyklub ‘n sukses maak.”

Deon het gesê hy verwag nie resultate binne die eerste maande nie, maar glo dat daar dan reeds ’n verandering in die struktuur en houding sal wees. “Ek daag die hele gemeenskap van Randfontein uit om deel te neem en om Teine te ondersteun,” het hy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version