School sportSport

Jannas-hokkiebokkies toer Margate toe met sukses

Hoërskool Jan Viljoen se dogterseerstehokkiespan het onlangs in Margate afrigting ontvang en het reeds hul eerste ligawedstryd agter die blad.

Hoërskool Jan Viljoen se dogterseerstehokkiespan is beslis ‘n span om vanjaar dop te hou.

Die hokkiebokkies was gedurende die April-vakansie by die Margate Sportskool waar hulle kragte gemeet het met spanne van hoërskole soos Montana, Martie du Plessis, Shangri La en die SportzKids-klub. Jannas was naaswenners.

Die afrigting is aangebied deur die uiters bekwame en talentvolle Lindy Horlock en haar span. Hulle het die spelers verskeie vaardighede geleer wat hulle dié seisoen kan toepas.

Kamogelo Mosetlhatsela en Andrea Horn is albei as die belowendste spelers aangewys en Kamogelo is boonop gekies vir die D2/ D12-distrikspan

Volgens Tammy Smith, skoolwoordvoerder, kon die afrigters nie uitgepraat raak oor die goeie dissipline, deursettingsvermoë en spangees wat die Jannas-meisies getoon het nie.

“Die toer het nie net waardevolle oefensessies en klipharde wedstryde ingesluit nie. Die spelers kon darem ‘n bietjie op die strand baljaar. Die toer het hulle die geleentheid gebied om as span te groei en ‘n hegte band te vorm,” het Tammy vertel.

Die ligaseisoen het reeds begin en die eerste ligawedstryd was teen Hoërskool Riebeeckrand. Tammy het vertel dat die taai wedstryd wat in die reën gespeel is, vir die meisies ‘n fisiese en emosionele uitdaging was. Die spanne het uiteindelik gelykop gespeel.

“Dié hokkiespan gaan beslis nog hoë hoogtes bereik. Hou ons dop!”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button