Local sportSport

Randmark tem die Maluti Double 90

Fietsryers van die Randmark Hardloop- en Fietsryklub het duidelik genoeg murg in hul pype gehad toe hulle die taai Maluti 180km-spantydtoets kafgery het.

Randmark-fietsryers het onlangs bewys hulle het genoeg murg in hul pype. Twee spanne van 12 fiestryers elk het die moordende Maluti 180km-spantydtoets op Saterdag, 14 April aangedurf.

Volgens Nico Smit van die klub het die fietsren in koel, mistige weer in die mooie Clarence in die Oos-Vrystaat begin waarna daar na Bethlehem en Kestell gery is.

“Die spanne het hul helpers in Kestell gekry waar waterbottels opgevul is en vinnig ietsie geëet is. Hulle het toe reeds 104km afgelê. Na 130km het die Golden Gate Nasionale Park die ryers begroet en het hulle die ‘Gates of Hell’ binnegegaan.

“Vir die volgende 45km het die een moordende opdraand na die ander vir die deelnemers gelê en wag. Die spanne het vinnig kleiner geword soos die ryers uit die groepe begin val het.”

Volgens Nico het drie van Randmark (Span een) se ryers en vier van en Randmark (Span twee) se ryers by Golden Gate uitgesak. Een van hulle het ongelukkig siek geword en moes heeltemal tou opgooi.

Hy het bygevoeg dat die res van die ryers vasgebyt het en dat die verligting groot was toe hulle die eindstreep in Clarence bereik is.

“Vir ‘n paar lede was dit ‘n baie spesiale geleentheid deurdat families saam klaargemaak het – ‘n pa, ma en dogter (Johan, Irene en Jana Jonker ); ’n pa en dogter (Jan en Lee Kotze); ‘n pa en seun (Nico en Tiaan Smit) en ‘n egpaar (Shaun en Susan Botha).”

Randmark (Span een) se tyd oor die 180km was 6 uur, 36 minute en 14 sekondes terwyl Randmark (Span twee) die wedren in ‘n tyd van 8 uur, 17 minute en 23 sekondes voltooi het.

Gaan hulle volgende jaar weer ry? Vra hulle eers oor ‘n week wanneer die seer en moegheid gewyk het …

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button