Local sportSport

Super Rugby is amper hier! Ons kyk na die Lions

Super Rugby begin hierdie naweek en die Herald voorspel hoe SA-spanne moontlik kan vaar. Die Lions is eerste aan die beurt.

Lions-ondersteuners krap nog kop en wonder hoe die Crusaders verlede jaar die Super Rugby-trofee onder hul neuse in die eindstryd op ‘n volgepakte Ellis Park weggeraap het.

Ja, daar was die rooikaart, maar het die vertrek van Johan Ackerman en sy seun Ruhan dalk ‘n rol gespeel, of was dit die Crusaders se 156 duikslae en uitstekende wil om te wen wat vir hulle die sege besorg het?

Die Lions is jare lank as ‘n slaansak in die kompetisie gebruik en hulle was gereeld aan die onderste helfte van die tabel.

Vir die afgelope drie jaar of so is hulle egter weer ‘n span om mee rekening te hou. Hul teenstanders moet op hul beste wees om hulle veral in die Leeukuil te klop.

Vra my, ek was daar toe die Lions-span met nuwe energie die Stormers met 34–10 slae gegee het in die tweede rondte van die kompetisie in 2014. Groot name in die Stormers-span soos Vermeulen, De Villiers, Catrakilis, Kitshoff, Malherbe, Kolisi, Burger, De Allende en Aplon was nie genoeg nie.

Vir die Lions het manne soos Jaco Kriel, Warren Whiteley, Julian Redelinghuys, Ross Cronje, Ruan Combrinck, Faf de Klerk en Franco Mostert almal hul stempel afgedruk en begin naam maak. Almal, behalwe Julian en Faf is vandag nog in die Lions-prentjie. Dit was ook boonop in die jaar waarin die Lions weer deel van die kompetisie geword het na die vorige jaar se relegasie.

In 2014 het die Lions sewe wedstryde gewen en 12e uit 15 spanne geëindig, en van toe af het hulle werklik beïndruk.

In 2015 het hulle agtste geëindig en onder andere die Blues, Rebels en Reds weg van die huis af geklop en met goeie tuisoorwinnings oor die Highlanders en Waratahs gespog. In 2016 het hulle almal verras deur tweede uit 18 spanne op die algehele tabel te eindig en na die eindstryd deur te dring waar hulle ongelukkig teen die Hurricanes vasgeval het. Hulle het ook goeie oorwinnings oor die Chiefs (weg), Sharks (weg), Blues (tuis), Jaguares (tuis), Bulls (weg), Crusaders (tuis) en Highlanders (tuis) gehad. Verlede jaar het die Lions dit ‘n stappie verder gevoer en heel bo aan die punteleer geëindig – maar het weer teen ‘n Nieu-Seelandse span vasgeval.

Is 2018 hulle jaar? Ek dink so. Met ysters soos Malcolm Marx, Kwagga Smith, Ruan Janse van Rensburg, Lionel Mapoe en Andries Coetzee om van te kies benewens die spelers wat ek reeds genoem het, het jy ‘n span en ‘n half.

My voorspelling: Die Lions kan dit doen. Meeste spelers in die groep het al in twee agtereenvolgende eindstryde gespeel, so dit is nie moeilik om hulle te motiveer nie. Wraak moet ook nie in hul agterkoppe wees nie (loesings teen veral die Hurricanes en Crusaders in die eindstryd) en hulle moet eerder fokus op die resep van die afgelope drie jaar wat hulle so suksesvol met Johan aan die stuur stuur gemaak het, eerder as om ‘n nuwe taktiek onder Swys te probeer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button