‘Perd, ook mens se beste vriend’

Perdryterapie help kinders met emosionele probleme.

Perdry kan jou geld, selfs ‘n trofee laat wen. Vir Lorraine Gouws, 53, eienaar van Mi Yehenraine Ryskool kan perdry kinders met emosionele probleme help.

Mi Yehenraine Ryskool is ‘n niewinsgewende organisasie was juis onlangs met die hulp van borge kos vir nagenoeg 120 minderbevoorregte kinders voorsien het.

Lorraine het duidelik ‘n hart vir kinders en ‘n groot liefde vir perde. Sy het vertel dat daar vir haar niks mooier is as ‘n kind met ‘n gesig wat straal van blydskap en wat lag nie. Sy het self drie kinders, wat reeds elkeen hul eie blyplek het. Sy was vroeërjare ‘n ouditeur.

Dié ruimhartige Lorraine het reeds deeglik kennis gemaak met swaarkry, pyn en seerkry, en ken donker dae. “Dit is dalk waarom ek so lief is vir kinders. Minderbevoorregte kinders word anders groot en baie keer doen dit skade aan hul selfbeeld,” het sy gesê.

Lorraine is in 2005 met kanker gediagnoseer en het by die dood omgedraai. Sy het getuig hoe sy bloot opgekyk en gesê het God is haar geneesheer.

Drie maande na haar ontslag uit die hospitaal was sy stukke beter. In Oktober 2016 het haar vriend, wat die ryskool saam met haar wou begin, na ‘n beroerte gesterf.

Sy was ook al ‘n paar keer die slagoffer van geweld. “Alles wat met ‘n mens gebeur, maak jou net sterker,” glo sy. Na die dood van haar vriend, het Lorraine ‘n staptoer onderneem om haarself weer te vind, en het onder andere Hazyview besoek. Sy het telkemale beklemtoon dat geld nie haar god is nie, “… en dat as jy gesukkel het, jy alles meer waardeer”. Sy glo mens het nie baie geld nodig om gelukkig te wees nie.

Lorraine se droom was nog altyd om deur perdryterapie kinders met emosionele probleme te help en het in April 2017 uiteindelik haar droom bewaarheid en haar ryskool begin. Sy bied ook perdrylesse aan.

Sy het tans 16 perde, en sy beskou hulle as haar kinders.

Toe die Herald haar gevra het hoe die perdryterapie die kinders met probleme help, het sy gesê dat perde mens se emosies aanvoel. “‘n Perd is so sensitief, en behandel jou dan volgens jou emosionele toestand,” het sy verduidelik.

“Ek motiveer ook die kinders om met die perde oor hul probleme te praat, want kinders praat nie graag oor hul pyn nie. ‘n Perd is jou beste vriend; jy kan jou arms om sy nek sit en huil en hy sal nooit uitpraat nie.

“Ek werk ook aan die kinders se selfbeeld en motiveer hulle elke keer as hulle kom perdry,” het sy gesê.

Lorraine lyk nie na iemand wat al soveel trauma beleef het nie. Sy tree beslis ook nie soos ‘n slagoffer op nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na northsider@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Roodepoort Record

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Exit mobile version