Local sportSport

Teine wil sy vlerke in 2018 verder sprei

Teine het nie verniet 'n arend op hul bors nie. Hulle wil vanjaar nog hoër as ooit tevore vlieg.

Teine het nie verniet ‘n arend op hul bors nie. Hulle wil vanjaar nog hoër as ooit tevore vlieg.

Jan van Loggerenberg, nuwe adjunkvoorsitter van Randfontein Rugbyklub het hul mikpunte vir die 2018-seisoen uitgestippel.

“Ons wil onder die eerste twee of drie klubs in die Pirates Groot Uitdaagreeks eindig. Ons wil kwalifiseer vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Gold Cup – iets wat die klub nog nooit reggekry het nie. Ons hét die spelers en die afrigters, en ja ons kan dit doen,” het Jan gesê.

Die Gold Cup, voorheen bekend as die Gemeenskapsbeker, is ‘n kompetisie vir die beste oop klubs in SA. ‘n Span van onderskeidelik Zimbabwe en Namibië neem ook daaraan deel. Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, het die toernooi beskryf as ‘n ‘Ware Afrika-klubtoernooi’ en het gesê dat spanne mekaar aandurf in ‘n formaat soos dié van die Rugbywêreldbeker. [https://www.sarugbymag.co.za/blog/details/club-rugby-revival-revealed]

Met Teine-rugby wat ‘n opwaartse kurwe toon, glo Jan hulle kan nes Poorte destyds, die volgende Wes-Randspan wees om dit reg te kry.

Die klub het ‘n belowende 2017-seisoen ervaar. Hulle het onder andere in die Pirates Groot Uitdaag-reeks vir Wits en Poorte geklop, en was baie kompeterend teen die Pukke by die huis. Hul sewes-span is as die wenners van ‘n Diggers-toernooi aangewys is en het tydens ‘n toernooi in Zambië tweede onder die SA-spanne geëindig na ‘n Leeus-span.

Maar, soos enige ander oop klub is spelerwerwing en spelerbehoud ‘n uitdaging. Nes die Springbokke goeie spelers aan oorsese klubs afstaan omdat die rand nie by die euro kan kers vashou nie, is dit ook so op klubvlak, het Jan vertel.

Hy het gesê die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) het vroeërjare ‘n bedrag aan sy klubs toegewys, maar dat daardie dae verby is en hulle nes al die ander klubs selfonderhoudend moet wees.

“Alhoewel almal passievol oor hul dorp en klub is, soek spelers groener weivelde om byvoorbeeld na hul families te kan omsien. Sake by ons klub is gesond. Dit is ‘n uitdaging, maar ons is baie geseënd.”

Nog ‘n uitdaging, het Jan gesê, is die gaping tussen skole- en oopklub-vlak.

“Ongelukkig kies die meeste jong spelers eerder die universiteite. Spelers dink dalk daar is nie genoeg blootstelling by oop klubs nie, en natuurlik speel beurse en geld (omdat dit ‘n loopbaankeuse kan wees) ‘n rol.”

Sy boodskap aan dié wat graag wil speel is, “Kom en wees deel van die familie. Dit gaan nie net oor die 80 minute op die veld nie maar hoe spelers groei. Randfontein Rugbyklub is nie ‘n klub nie maar ‘n familie waaraan ek behoort.”

Daar word reeds Maandae, Dinsdae en Donderdae van 6nm tot 8nm by die klub geoefen. Kontak gerus vir Mara Conradie by 079 086 9878 of Dana by 083 269 2316.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button