Rugby is vir hom alles

Rugby is vir my 'n passie en 'n plek waar ek my kop kan skoonkry — o.16-rugbyspeler wat besig is om hoë hoogtes te bereik.

Bradley Engelbrecht, ‘n o.16-rugbyspeler se loopbaan het skaars begin en hy bereik reeds hoë hoogtes.

Bradley is tans ‘n Graad 10-leerder in Hoërskool Noordheuwel en hy eet, slaap en leef vir rugby.

Hy het van jongs af geweet dat sy passie op die rugbyveld lê en het daarom in Graad 8 besluit om die sport ernstig op te neem. In 2016 het hy egter ‘n ernstige besering opgedoen toe hy sy kruisligamente geskeur het. Dokters het aan hom verduidelik dat hy vir nege maande nie aan die sport mag deelneem nie en moes die sport vir eers opsy skuif.

Voor die besering was hy ‘n lid van die Titans Akademiese Span waar hy raakgesien is om in die VKB-rugbyspan in Frankfort te speel.

Gedurende die 2017-rugbyseisoen het hy as loskopstut in die nommereen-trui vir die o.16-span van die Randfontein Rugbyklub uitgedraf.

In Oktober het hy in die Goue Leeus-trui aan die Interprovinsiale toernooi deelgeneem. Dit was vir hom een van sy hoogtepunte, omdat hy die meeste punte aangeteken het en as speler van die wedstryde aangewys is.

“Rugby is vir my ‘n passie en ‘n plek waar ek my kop kan skoon kry. Ek leef myself op die veld uit,” het Bradley gesê.

Hy is vol vertroue dat hy die nodige eienskappe het om ‘n suksesvolle professionele rugbyspeler te word. Hy glo dat uithouvermoë, harde werk en baie oefening die sleutel tot sy sukses is.

Hy beoog om aanstaande jaar vir sy skool se eersterugbyspan te speel en om die Titans by die Jeugrugbyfees in Portugal te verteenwoordig. Sy uiteindelike mikpunt is om eendag professionele rugby in Engeland te speel. Hy glo sy prestasies is te danke aan sy ouers en afrigters wat hom deurgaans ondersteun.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version