Local sportSport

‘Bokke kan dié naweek verras’ – voormalige Bok

Is daar 'n kans dat die Springbokke ons almal Saterdag gaan verras? 'n Oud-Bok van 1965 glo so ...

Piet Botha, voormalige Springbok-slot, glo die Springbokke kan ons almal hierdie naweek teen die magtige All Blacks verras. Piet het self in 1965 die Bok-trui oor die kop getrek.

Saterdag se wedstryd vind in die laaste rondte in vanjaar se Rugby Kampioenskap plaas en sal die laaste een vanjaar tussen die twee ou vyande op die rugbyveld wees. Die All Blacks het reeds albei hande op die trofee terwyl die Bokke vir trots speel.

Die All Blacks was reeds verlede maand baas en het met ‘n eindtelling van 57–0 die Bokke ‘n rugbyles geleer. Boonop was dit die derde agtereenvolgende loesing wat die All Blacks vir Allister Coetzee en sy Bok-span (41–13 en 57–15 in 2016) gegee het, maar ten spyte daarvan glo Piet dat die Bokke ‘n haas uit die hoed kan trek.

Hy is heel optimisties oor die Bok-span se toekoms en glo dat mense te negatief is.

“Kom ons staan by ons manne. Daardie speler wat opdraf het nie homself gekies nie en dan kraak ons hulle net af. Ons moet aangaan en glo.

“Almal wil wen, moenie ‘n fout maak nie, maar jy gaan nie wen as jy nie reg voorberei nie. Dis ‘n nuwe span wat gewillig is om lekker rugby te speel. Kom ons gee hulle tyd want ek kan jou nou sê dat hulle eendag net gaan kliek.”

Hy’t ook verwys na die Goue Leeus se Superrugbyspan wat eers gesukkel het, maar nadat Johan Ackerman en sy afrigtingspan oorgeneem het, het hulle mettertyd ‘n gedugte span geword.

Die wedstryd skop Saterdag om 5nm op Nuweland in Kaapstad af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button