Vrou speel nog rolbal op 88!

Anna van Niekerk van Randpoort Renaissance is steeds aktief in sport op 88-jarige ouderdom.

Anna van Niekerk is op 88-jarige ouderdom steeds soepel, sterk en ‘n voorbeeld vir ander sportliefhebbers.

Dié inwoner van Randpoort Renaissance is die oudste speler by die Randfontein Rolbalklub. Sy het ‘n groot passie vir sport en geniet dit om haar tyd op die rolbalbaan deur te bring.

Anna het in die Vrystaat grootgeword en het in haar hoërskooldae verskeie trofeë in sport verower. Sy het aan die Herald vertel dat sy elke jaar as die skool se victrix ludorum aangewys is en dat sy elke jaar aan die interhoër deelgeneem het.

In daardie dae was daar nie ‘n verskeidenheid van sport nie. Ons het die 100- en 150-tree gehardloop en hoog gespring,” het Anna vertel.

Op die rolbalbaan is Anna almal se gunsteling en hulle kan nie uitgepraat raak oor haar vermoëns nie.

Anna het vertel dat sy nog nooit professionele afrigting in haar sport ontvang het nie en dat sy ‘n natuurlike talent het. Sy en haar man het destyds graag saam tennis, sagtebal en ook korfbal gespeel, maar Anna het trots vertel dat rolbal haar gunsteling sport is.

Anna oefen ongeveer drie maal per week rolbal. Hoogtepunte in haar lewe was toe sy en haar span een jaar die dubbels gewen het en ook toe sy in 2016 aangewys is as die naaswenner in die enkels.

Sy wil graag ander – oud en jonk – aanmoedig om dié sport te kom beoefen om so jonk te bly.

“Dit is goeie oefening en wonderlike afleiding,” het Anna gesê.

Sy het trots vertel dat sy sal aanhou speel tot die dag wanneer sy nie meer kan beweeg nie. Haar grootste droom is om eendag, in haar woorde, “die Goeie” te bereik.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version