Marileé ‘n Protea vir die toekoms

17-jarige van Hoërskool Riebeeckrand skitter reeds op provinsiale vlak.

Sy is maar net 17 jaar oud maar Marileé van der Walt van Hoërskool Riebeeckrand woeker met haar talente op die netbalbaan op provinsiale vlak.

Marileé was tydens die Suid-Afrikaanse Spar Netbalkampioenskappe in Durban die jongste speler in die Gauteng Spar B-netbalspan vir senior vroue.

Die span het algeheel derde geëindig en elke speler het ‘n bronsmedalje ontvang.

Marileé het vroeër vanjaar tydens die Suid-Afrikaanse netbaltoernooi in Kaapstad ook haar puik vaardighede in die o.19A-span gewys wat daartoe gelei het dat sy in die Provinsiale B-span opgeneem is.

Sy verteenwoordig ook die skool se eerstenetbalspan en is ‘n lid van die Greenhills Netbalklub se A-span.

Teresa van der Walt, Marileé se ma beskryf haar as ‘n goed gebalanseerde kind.

“Sy is ook een van die skool se top 20 akademiese leerlinge en haar ambisie rondom netbal groei elke dag,” het Teresa gesê.

Marileé hoop om volgende jaar die Protea Netbalspan tydens internasionale netbaltoernooie te verteenwoordig.

Marileé bedank graag vir Bernie Lindner, bestuurder van die Gauteng Spar B-netbalspan vir senior vroue, Driekie Putter, Greenhills Netbalklub-bestuurder en Chaney Lindner, hul spankaptein vir hul leiding en ondersteuning tydens die toernooi.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version