Local sportSport

Goue Leeus raap plaaslike vrouerugbyspeler op

'Baie mense is onder die indruk dat rugbyreëls vir vrouerugby verskil van dié wat vir die mans geld, maar dis presies dieselfde.'

Maresa Ooshuizen, ‘n voormalige Randfonteiner het teen haar eie verwagting in verlede maand vir die Goue Leeus se vrouespan uitgedraf.

Rugby was nooit werklik deel van haar toekomsplanne nie, maar dit was ‘n welkome verrassing om die provinsie te kon verteenwoordig.

Tydens Vrouerugby se interprovinsiale kompetisie op Saterdag (23 Julie) het sy in haar eerste wedstryd in die senior span teen die Limpopo Bulle uitgedraf en was uit haar vel oor hul ongelooflike oorwinning. Die eindtelling was 51–19.

Maresa het voorheen tydens die Cravenweek vir die Goue Leeus 7’s-span gespeel en talentsoekers het haar uitmuntende spel raakgesien. Sy is daarna na die Goue Leeus-rugbyproewe toe genooi.

Na die proewe is sy as agtsteman vir die Goue Leeus se beginspan gekies.

“Ek was nog altyd lief vir enige sport, maar om vir die Goue Leeus se vrouespan te speel is ‘n voorreg wat ek nie gedink het ek sal ooit geniet nie,” het Maresa gesê.

“Baie mense is onder die indruk dat rugbyreëls vir vrouerugby verskil van dié wat vir die mans geld, maar dis presies dieselfde. Dit is net so veeleisend en fisies uitdagend soos mansrugby.”

“As die Goue Leeus-manspan hierdie naweek (30 Julie) ook hul wedstryd wen sal ons span 9 Augustus op Ellispark (Emirates Airline Park) teen die Valke speel. En vir iemand wat met rugby in haar huis grootgeword het, sal dit ‘n besonderse eer en mylpaal wees om op dié veld te speel.”

“My hart is die liefste vir sport,” het Maresa opgewonde gesê. Sy het op skool rugby, netbal en krieket gespeel en studeer self nou sportbestuur op universiteit.

“Ek kan dalk nog eendag ‘n bestuurder vir die Goue Leeu se manspan word.”

Maresa Oosthuizen, 'n voormalige Randfonteiner speel tans vir die Goue Leeus se vrouespan.   Hier is sy net regs van die speler wat die bal het. Foto: Lynn Language van LionsWorld
Maresa Oosthuizen, ‘n voormalige Randfonteiner speel tans vir die Goue Leeus se vrouespan. Hier is sy net regs van die speler wat die bal het. Foto: Lynn Language van LionsWorld

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Rappies lewer Goue Leeu op

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button