Local sportSport

Teine maak geskiedenis teen Poorte

Mapogo Teine klop Poorte 21-15 en maak geskiedenis.

Mapogo Teine (Randfontein Rugbyklub se eerstespan) het die afgelope naweek verras deur met Roodepoort Rugbyklub vir die eerste keer in 11 jaar af te reken.

Die kragmeting het in Teine se agterplaas in die Greenhills Sportstadion plaasgevind. Die eindtelling was 21-15. Teine stap ook dus weg met die gesogde Castle Bowl-beker.

Dana van Vuuren, voorsitter van die klub was in sy noppies na die span se soet oorwinning.

“Randfonteiners wag al 11 jaar vir die dag wat ons vir Roodepoort klop. Dit was ‘n soet, soet oorwinning.

Dit was maklik ons beste vertoning tot nog toe,” het Van Vuuren gesê.

Volgens van Vuuren het alles voor in die vaste fasette begin. Mapogo Teine se enjinkamer in die skrum was net te warm vir die besoekers gewees en na elke skrum het Poorte al hoe meer gedisintergreer.

Teine se vaskopstut, Ian Pottas, het so goed vertoon dat hy gerus SuperRugby kan gaan speel.

“Ian het ook sy merk gemaak toe hy soos ‘n senter deur Poorte se verdedigingslyn gebreek en oorgeduik het vir sy drie in ‘n kritieke stadium van die wedstryd,” se Van Vuuren.

Die Teine-flank, Victor Hendriks, se werkverigting by die afbreekpunte was puik en is as die Speler van die Wedstryd aangewys. Dit was ook ‘n goeie aand vir die losskakel Tiaan Nel wat die spel soos ‘n ware generaal beheer het.

Die klub het ook vir Rudi Marx, Teine se kaptein geloof vir sy uitstekende kommunikasie met spelers op die veld. Hy het ook ‘n skepskop oorgeklits.

Om eerlik te wees is dit onmoontlik om enkele spelers uit te lig want elke speler het toegesien dat Poorte van hulle voete af gespeel word.

Ons het een van ons beste wedstryde tot nog toe vanjaar gespeel. Ek dink ons kan nog beter. Ons verwag nog groot dinge die jaar. Wie weet, dalk gaan ons nog in SARU se Gemeenskapsbeker meeding,” sê Van Vuuren.

Punte was aangeteken soos volg:

• Drieë: Kosie van Zyl, Ian Pottas
• Doelskop: Tiaan Nel
• Strafdoele: Tiaan Nel (2)
• Skepskop: Rudi Marx

Verder het Randfontein se tweedespan bekend as die Eagles ongelukkig 21-7 en die derdespan bekend as die Valke 29-8 verloor.

Randfontein se o.21s het 25-16 terwyl die o.20s vir die eerste keer vanjaar 21-14 teen Poorte vasgeval het.

Van Vuuren bedank al die Randfonteiners vir hullle ondersteuning gedurende die wedstryd tussen Mapogo Teine en Roodepoort.

Hul volgende tuiswedstryd is Saterdag 23 April teen Krugersdorp Harlequins.

“Alhoewel dinge baie goed gaan kort ons nog hande om te help as spanbestuurders en afrigters”, het Van Vuuren gesê.

• Navrae: Dana by 083 269 2316.

Mapogo Teine se kaptein Rudi Marx by hulle oorwinning
Mapogo Teine se kaptein Rudi Marx by hulle oorwinning

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button