Local sportSport

Teine-eerstespan gereed vir ‘n goue era

'Randfontein Rugbyklub is op die regte pad' — afrigter.

Randfontein Rugbyklub se eerstespan, geborg deur Mapogo A Mathamaga, is slaggereed vir die liga wat binnekort (Vrydag 10 April) teen Wanderers afskop.

Jacques Conradie van die klub het gesê, “Alles verloop volgens plan en die manne is opgewonde.”

Ter voorbereiding van die liga het Teine reeds ‘n handvol kragmetings agter die rug waarin dit goed gegaan het.

In die Assupol-reeks het hulle wel sleg teen Tukkies (76-0) vasgeval, maar het daarna beïndruk toe hulle teen aardsvyand Roodepoort op Emirates Airline Park (Ellis Park) 23-elk gelykop gespeel het.

Die uitslag is indrukwekkend en Teine se beste vertoning teen Roodepoort in 10 jaar – dit nogal teen ‘n span wat verlede jaar in die Gemeenskapsbeker-eindstryd gespeel het en teen die uiteindelike kampioen Rustenburg Impala met slegs twee punte verloor het. Die kragmeting het ook as ‘n voorwedstryd gedien vir die Superugby-spanne, Lions en Stormers op Saterdag 28 Februarie.

“Ons het gedurende daardie wedstryd bewys Teine is op die regte pad. Ons glo ons is op koers om vir die Gemeenskapsbeker te kwalifiseer. Dit is die manne se droom,” het Jacques gesê.

Hierna het Teine een van die voorste oopklubs in die noorde, Pretoria Harlequins in ‘n vriendskaplike ontmoeting 38-12 afgeslag. Op Saterdag 14 Maart het Teine geswoeg en gesweet maar deurgedruk en ‘n Vereeniging-span 26-25 geklop.

Hul kragmeting teen Johannesburg Polisie is weens swaar reën en donderstorms gekanseleer nadat Teine 5-0 voor was na vyf minute.

“Die manne het goed gelyk. Ons het seker ook die vinnigste drie in ons klub se geskiedenis gedruk – slegs 30 sekondes na die afskop in die eerste helfte. Dis hartseer dat die wedstryd gestop is; ons het regtig ons vlerke gesprei,” het Jacques gesê.

Teine se volgende kragmeting was Saterdag teen Union weg van die huis af, waarna hulle ‘n kort breuk het voor die liga begin. Die volgende tuiswedstryd is Vrydag 10 April teen Wanderers.

“Ons vra dat mense die span kom ondersteun. Randfontein Rugbyklub is op die regte pad en ons beoog om weer een van die voorste klubs in die Goue Leeus Rugby Unie (GLRU) te wees,” het Jacques gesê.

• Wil jy die Lions op Emirates Airlines Park ondersteun? As jy kaartjies wil koop vir die 4 April-kragmeting tussen die Lions en die Bulls of die Lions en die Sharks op 11 April, skakel Dana van Vuuren by 083 269 2316. Kaartjiepryse beloop R50 vir die paviljoene en R180 vir die losie – op die veld oorkant die groot skerm. Daar sal ‘n kontantkroeg wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button