Local sportSport

Raiders bobaas in al drie Teine-kragmetings

Teine-eerstespan vaar die beste van die drie met 38-19 loesing.

Teine het hul beste gegee maar dit was nie goed genoeg in die wedstryd teen Raiders die afgelope Saterdag nie.

Raiders se verdediging was soos ‘n baksteenmuur en dit was ook nie lank voor die eerste punte aangeteken is nie. Raiders se Daneel Baba Ellis het die eerste drie gedruk en Arno Coetzee het met ‘n doelskop gesorg dat die telling 7-0 lees.

Teine se Jurie Oosthuizen het met ‘n drie geantwoord en losskakel Tian Nel het geen fout gemaak om sake gelyk te maak nie. Die derde drie in die kragmeting is deur die besoekers se Lincoln Koopman gedruk wat die telling 14-7 in Raiders se guns teen lemoentyd laat lees het.

Kort na die uitjie vir die begin van die tweede helfte het Teine sake weer gelyk gemaak toe Barries Meintjies ‘n pragtige drie gedruk het. Dit het toe gelyk of Teine ‘n goeie kans staan om die kampioene te wen.

Raiders het daarna agt veranderinge aangebring en hulle stêrspelers opgestuur. Dit het Raiders soos ‘n ander span laat lyk want kort hierna is vier drieë gedruk deur onderskeidelik Gardener Nechironga, Dewald van Deventer, Chanwill Oktober en Arafat Kock.

Marchant van Rooyen wat ook die man van die wedstryd was het darem net voor die eindfluitjie nog ‘n drie vir Teine gedruk wat die eindtelling 19-38 gemaak het.

Raiders se afrigter, Fernando Penshaw het na die wedstryd gesê, “Teine lyk baie goed hierdie jaar. Ek is seker ander spanne gaan hulle nie onderskat nie. Ons gaan ons sokkies moet optrek om bo te bly.”

Teine se afrigter, Theuns Botha weet dit is nog vroeg in die seisoen en meen daar lê nog harde werk voor.

“Dit was ‘n goeie wedstryd om mee te begin. Ons geniet dit altyd om teen Raiders kragte te meet. Ons het baie goed gespeel en ek is trots op die span en wat hulle met so min voorbereiding teen Raiders kon bereik,” het die ander afrigter, Willie Marx na die wedstryd gesê.

Ander uitslae:

• Randfontein Eagles (tweedespan) 14-48 Raiders
• Derdespan 5-67 Raiders

Related Articles

Back to top button