Dis weer tyd vir ringbal

'As jy ringbal eers een keer gespeel het sal jy dit nooit los nie'.

Die tyd vir ringbal speel het weer aangebreek en volgens Fred Page van die Greenhills Ringbalklub gaan 2015 ‘n perd van ‘n ander kleur wees.

Greenhills Ringbalklub skop vroeg af met hul inligtingsaand op Donderdag 5 Februarie om 7nm in die klubhuis. Almal wat belangstel is welkom.

Op Dinsdag 10 Februarie sal oefeninge amptelik afskop en slegs sosiale ringbalwedstryde sal tot Mei gespeel word. Volgens Fred sal daar in die drie maande op nuwe spelers gefokus word wat nog nie die sport beoefen het nie.

“Ons nooi almal vriendelik uit om te kom speel – van kinders tot volwassenes. Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Ringbal is ‘n wonderlike familiesport en as jy dit eers een keer gespeel het sal jy dit nooit los nie,” het Fred gesê.

Oefentye is Dinsdae en Donderdae van 6.30nm tot 8nm. Sosiale wedstryde sal op Saterdae gespeel word.

Hierdie drie maande gaan jou niks kos nie maar van Mei af sal klubgelde wel ingevorder word. So stof daardie ou tekkies af en gaan maak ‘n draai by die bane en speel saam.

Greenhills Ringbalklub-hoogtepunte om na uit te sien:

• Vrydag (24 Februarie) van 7nm tot Saterdag (25 Februarie) 7vm: Klub se deurnag. Fred het verduidelik, “Ons speel ringbal reg deur die aand. Daar word tente opgeslaan, piekniek gehou en musiek gemaak. Hier word nuwe vriendskappe gevorm en selfs SA-spelers gebore.”

• Die Suid-Afrikaanse Ringbaltoernooi in Durban, ook bekend as ‘Die Toernooi’.

• Meesterstoernooi vir persone ouer as 45 jaar.

• Navrae: Skakel Greenhills Ringbalklub by 083 307 5531 of Retha Naude by 072 627 0900.

Exit mobile version