Rappie mik na Olimpiese Spele in 2019

'Hardloop is net in my' — graad 7-leerling.

Sandra Wijtenburg, ‘n Graad 7-leerling van Laerskool Rapportryer is besig om kringe om haar mededingers te hardloop.

Sandra is verlede jaar deur Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp opgeraap waar sy op die ouderdom van 12 al aan die o.14-items begin deelneem het. Sy sal vanjaar aan die o.15-items vir die skool deelneem.

Tydens die SA Skole-landloopbyeenkoms die afgelope Desember het sy ‘n sewende plek behaal en is een van die ses wat gekies is om Gauteng te verteenwoordig.

“Sandra is al van kleins af altyd op ‘n draf-missie. Ons gesin is so trots op haar en weet dat sy dit in haar het om Suid-Afrika tydens die 2019 Olimpiese Spele te verteenwoordig,” het Elize Wijtenburg, haar ma gesê.

Verlede week Donderdag (22 Januarie) gedurende Rappies se huissport het Sandra vir die vierde jaar na mekaar die Junior Victrix Ludorum-beker verower. Volgens die skool het Sandra selfs meer punte as die seuns behaal. Sy het ook die rekord in die 800 meter vir dogters o.13 verbeter met ‘n tyd van 2 minute en 26 sekondes.

“Hardloop is net in my. Dit is ook vreeslik lekker om fiks te wees. Die oefening hou my gesond en aan die gang,” het Sandra aan die herald gesê.

Gevra wat die toekoms vir haar inhou meen Sandra, “My mikpunt is die Olimpiese Spele oor vier jaar. Ek droom daarvan om Suid-Afrika se vlag hoog bo-oor my kop te waai en my geliefde geboorteland te teenwoordig.”

Deur al die skoolgaan, huiswerk, oefeninge, kompetisies en sosiale aktiwiteite wil Sandra eendag ‘n wildbewaarder word.

“Ek wil na die olifante en renosters omsien en probeer help om hulle uitwissing te bekamp. Ek is baie lief vir diere en die wrede ivoorsmokkelaars maak my net meer vasberade om ‘n verskil te maak,” het Sandra bygevoeg.

Sandra Wijtenburg in haar Gauteng-kleure spog hier met haar vierde Junior Victrix Ludorum-beker.
Exit mobile version