Rierand-krieketster haal Wes-Rand span

'Sy puik kolf- en draaiboulwerk is 'n groot aanwins vir die span' — skool.

Een van Hoërskool Riebeeckrand se kranige krieketspelers is onlangs in die Wes-Rand Krieketspan opgeneem.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger het Divan van den Berg (Graad 9) weer vanjaar gewys dat hy nie net ‘n uitstaande rugbyspeler is nie maar ook wonders op die krieketveld verrig.

“Divan was deel van Riebeeckrand se suksesvolle o.15-rugbyspan. Hy was ook kaptein van die junior krieketspan van Riebeeckrand in beide die T20 en 50-boulbeurt ligas,” vertel Kruger.

Na twee harde rondtes proewe is Divan tot die Wes-Rand se o.15-krieketspan verkies.

Kruger vertel dat Divan se puik kolf en draaibalboulwerk ‘n groot aanwins vir die Wes-Rand Krieketspan is.

“Die Wes-Rand Krieketspan het gedurende die afgelope skoolvakansie verskeie wedstryde gespeel waarin Divan met kolf in die hand uitgeblink het en ‘n groot verskil in die span gemaak het,” vertel Kruger.

Die bestuur- en afrigtingspan, asook onderwysers van Hoërskool Riebeeckrand is voorwaar trots op Divan en wens hom geluk met sy puik prestasies.

Exit mobile version