Jannas-krieketspelers blink uit by Bokkieweek

Hoërskool Jan Viljoen spog met 11 van hul top krieketspelers wat hul talente tydens die AVS-Bokkieweek ten toon gestel het.

Hoërskool Jan Viljoen spog weer vanjaar met 11 van hul top krieketspelers wat gedurende die afgelope skoolvakansie aan die Afrikaanse Volkseie Sport (AVS) Bokkieweek deelgeneem het.

Volgens die afrigter van die AVS Transvaal Bokkieweek span en onderwyser van Hoërskool Jan Viljoen, Jannie du Preez, beleef Jannas se krieket vanjaar ‘n goeie jaar en is dit vir hulle ‘n groot eer om soveel spelers in die Bokkieweekspan te hê.

Die spelers is Marnus Louw, Jason Harmse (kaptein), Eward Maritz (onderkaptein), Calvin Horn, Edrich Weyers, Lair Boshoff, SJ Horn, Francois de Villiers, Renier van Dyk, Morné van der Westhuizen en Regard Erasmus.

“Dié groep seuns het vanaf 8 tot 11 Oktober aan die Bokkieweek in Vereeniging deelgeneem en teen ander spanne van regoor Suid-Afrika kragte gemeet,” vertel Du Preez.

Hy verduidelik dat die Transvaal Bokkieweek span vier wedstryde tydens dié toer gespeel het.

Die wedstryde was teen Hoëveld, Natal, Stellaland en Griquas.

“Ongelukkig het ons teen Hoëveld en Natal verloor, maar die kragmetings teen Stellaland en Griquas met gemak gewen,” vertel Du Preez.

Du Preez bedank elkeen van dié leerlinge vir hul puik spel gedurende die Bokkieweek en wens hulle geluk met die puik prestasies wat hul tot dusver vanjaar geniet het.

“Baie geluk ook aan Herman Louw, van Westonaria Toyota wat as spanbestuurder van dié span puik werk verrig het,” vertel Du Preez.

Exit mobile version