Jannas-eerstespan vanjaar se Wes-Rand krieketkampioene

Klop Carletonville met 103 lopies in eindstryd.

Hoërskool Jan Viljoen se eerstekrieketspan is die afgelope naweek as die nuwe Wes-Rand kampioene gekroon na ‘n gemaklike 103-lopie oorwinning oor Carletonville in die eindstryd.

‘n Week tevore het Jannas vir Hoërskool Riebeeckrand met 335 lopies in die halfeindstryd verniel om ‘n plek in die eindstryd te verseker . 

In die eindstryd het Carletonville die loot gewen en die manne van Jannas eerste kolfblad toe gestuur. Alhoewel Jannas die tuisvoordeel gehad het, was die manne van Carletonville vasbeslote om die dag vir Jannas moeilik te maak.

Met die openingsbeurt het Carletonville hul eerste paaltjie gevat en die tuisspan op die agtervoet gehad.

Eward Maritz en John van Rensburg het sake gestabiliseer en Jannas se telling na 151 vir een paaltjie opgestoot.

Eward het 102 lopies in sy beurt aangeteken, terwyl John met ‘n telling van 43 gespog het.

Volgens een van die afrigters van Hoërskool Jan Viljoen, George Smith het Carletonville na teetyd met nuwe moed op die veld verskyn en die oorblywende nege paaltjies van Jannas vir slegs 50 lopies laat kantel.

“Jannas se kaptein, JP Brummer het hard met sy troepe gepraat en Jannas het vol gees en passie op die veld verskyn met die doel om Carletonville te verhoed om hul telling in te haal,” vertel Smith.

JP het die spel puik vir Jannas begin en in sy eerste twee boulbeurte van albei die Carletonville-aanvangskolwers ontslae geraak.

“Met nog net 132 lopies nodig, was Carletonville sterk op pad om die titel in te palm. Dit was natuurlik totdat John van Rensburg die bal in die hande gekry het,” vertel Smith.

“John het in sy eerste twee beurte gesukkel, maar toe hy eers sy ritme kry, kon niks hom keer nie.”

John het in sy vyfde beurt vier paaltjies van vier agtereenvolgende balle laat kantel en weer later in die wedstryd twee puik paaltjies gevat.

Marnus Louw het ook ‘n goeie dag op kantoor geniet en self twee paaltjies laat kantel. Carletonville is toe almal vir ‘n telling van 98 uitgehaal.

“Ons is trots op elkeen van die spelers en die karakter wat hulle gewys het,” vertel Smith.

Jannas se eerstespan sal op 18 Oktober teen Hoërskool Monument in die Noordvaal Uitspeelwedstryd te staan kom.

Exit mobile version