Jannas-krieketspanne maak geskiedenis

Skool spog met al vier hul krieketspanne in vanjaar se halfeindstryd van skolekrieketliga.

Hoërskool Jan Viljoen kan krieket speel. Al vier hul junior en senior krieketspanne gaan in vanjaar se halfeindstryd van die Wes-Rand Skole Krieketliga in aksie wees.

Volgens ‘n verteenwoordiger van Hoërskool Jan Viljoen, George Smith, het die junior weekspan, met Ruan Pretorius as afrigter, al hulle teenstanders in die stof laat byt en het ook al hulle poelwedstryde gewen. Hulle het met skole soos Monument, Rierand, Carletonville, Carleton Jones, Glenharvie, Westonaria en St Ursula’s afgereken.

Verder is die uitslae van die junior naweekspan wat deur Robbie van Coller afgerig word ook indrukwekkend. Hulle het in die poelfases gemaklik teen Nic Diederichs, Randfontein High en Carletonville gewen. Ongelukkig het dié span naelskraap teen Monument verloor en beklee tans die tweede plek op die punteleer.

Die senior weekspan lê bo-aan die punteleer en spog met oorwinnings oor Riebeeckrand, Carletonville, Glenharvie, Westonaria en Jan de Klerk.

In hul kragmeting teen Glenharvie is geskiedenis gemaak toe Jan Viljoen ‘n totaal van 345 lopies in ‘n T-20 wedstryd gemoker het. Volgens die skool kon die telling nog groter gewees het maar Jannas het besluit om na 16 boulbeurte te verklaar. JP Brummer het ‘n uitstekende 108 lopies van slegs 31 balle aangeteken.

Die senior naweekspan is tot dusver nog onoorwonne in vanjaar se liga en is volgens Smith beslis ‘n span om dop te hou. Dié span het onder andere vir Monument met 80 lopies geklop en met vyf paaltjies oor Nic Diederichs geseëvier.

“In die laaste poelwedstryd het Jannas vir RHS gemaklik met nege paaltjies gewen nadat die manne van RHS vir slegs 75 lopies uitgehaal is,” vertel Smith.

Dié span het ook bo-aan die punteleer geëindig en volgens die afrigtingspan wat uit George Smith, Jannie du Preez en Sarel Steyn bestaan, is die seuns slaggereed vir die halfeindstryd.

“Die span word vanjaar deur Herman Louw van Westonaria Toyota geborg en ons as afrigtingspan bedank Louw vir sy betrokkenheid by die span en hul sukses,” vertel Smith.

Exit mobile version