Ram te goed vir Rappies op krieketveld

Al vyf spanne van Laerskool Randfontein behaal seges oor Laerskool Rapportryer.

Vyf van Laerskool Randfontein (Ram) krieketspanne het onlangs vir Laerskool Rapportryer (Rappies) gewys wie’s baas.

Volgens die skakelbeampte van Laerskool Randfontein, Annie Nolan, is dit ‘n besonderse prestasie.

“Vanjaar is die krieket onder die leiding van Steve Greyvenstein wat ‘n hoë verwagting en positiewe gesindheid teenoor die krieket het,” vertel Nolan. 

Sy sê dat al die afrigters van die verskillende spanne baie goed opgelei is en almal self ook kranige krieketspelers is.

“Ram se krieketspanne het nie teruggestaan nie en almal puik teen Rappies gevaar. Ons is baie trots op ons krieketspanne en wens hulle geluk met hul puik uitslae,” vertel Nolan.


Ram se eerstespan het in hul wedstryd teen Rappies baie sterk begin en ‘n totaal van 206 lopies in 30 kolfbeurte aangeteken. Wian Botha het met die kolf 52 lopies aangeteken terwyl Dillan Hanekom 44 lopies bygedra het. 

Die veldwerk en boulwerk het net so fantasties verloop met Rappies wat na 30 kolfbeurte vir slegs 106 uitgehaal is.

Wian is as die speler van die wedstryd aangewys.

Die o.9-span het met 87 lopies gewen terwyl die o.10’s naelbyt met een paaltjie koning gekraai het.

Verder het die o.12- en tweedespan oorwinnings van 25 lopies en ses paaltjies onderskeidelik behaal.

Exit mobile version