Teine-jeugrugby te goed vir Wasps

Randfontein Rugbyklub se jeug maak dit sewe uit sewe teen klub van Edenvale.

Al sewe jeugspanne van Randfontein Rugbyklub was aan die wenkant toe hulle en Wasps die afgelope naweek kragte gemeet het.

Soos verwag het Randfontein se jeug die van Wasps Rugbyklub van Edenvale gedomineer. Dit was ook die plaaslike klub se tweede keer wat hul in ‘n paar weke tuisvoordeel kon geniet. Die kragmetings het op 23 Augustus plaasgevind.

Volgens die klub sekretaresse Leoni du Buson het Randfontein se juniors skoonskip gemaak.

“Die dag was in goeie gees gespeel en die jong aspirant rugby spelers het dit baie geniet, maar aan die einde van die byeenkoms was die telbord meestal in Randfontein se guns,” vertel du Buson.

Om te begin het Randfontein se o.8-mannetjies met ‘n telling van 70-5 geseëvier terwyl die o.9s met ‘n telling van 46-19 met Wasps afgereken het.

Verder het Randfontein se o.10s 46-0 koning gekraai. Die o.11-manne het ook puik gevaar en hul kragmeting gemaklik 45-7 beklink. Volgens du Buson was Randfontein se o.12s ook indrukwekkend en het die Wasps 57-0 afgeslag.

Die o.13-manne van Randfontein het ook ver met 25-0 gewen terwyl die o.14s ook aan die wenkant met 29-9 was.

“Ons o.16 spelers het dan op 23 Augustus teen Alberton in ‘n wegwedstryd deelgeneem maar kon ongelukkig nie ‘n oorwinning behaal nie en het 31-17 verloor. Bygesê was dit die o.17s teen wie ons moes speel, nie hul o.16s nie,” vertel du Buson.

Randfontein Jeug Rugbyklub se volgende tuiswedstryde sal op 6 September, 13 September en 27 September plaasvind.

Verwante artikels:

• Teine jeug laat Harlequins klippe kou

• Randfontein jeugrugby staan sterk

Exit mobile version