Afrikaans Volkseie Sport gee terug aan Jannas

AVS doen 'n kontantskenking vir skool se busprojek.

Die bestuur van die Afrikaanse Volkseie Sport (AVS) Transvaal het op 15 Augustus by Hoërskool Jan Vijoen besoek afgelê met die doel om dié skool tydens een van hul fondsinsamelingsprojekte by te staan.

Volgens die president van AVS Transvaal, Karel du Plessis, wil hulle vir Hoërskool Jan Viljoen dankie sê vir hulle jare-lang betrokkenheid by die AVS-Bokkieweek.

“Hoërskool Jan Viljoen doen vir ons geweldig baie en bring jaarliks talle sportseuns en -dogters om aan die Bokkieweek deel te neem. Daarom wil ons dié skool bystaan tydens een van hul fondsinsamelingsprojekte,” vertel Du Plessis.

Behalwe vir die kontantdonasie wat AVS Transvaal gedoen het, het Du Plessis en sy span ook ‘n mooi geraamde rugbytrui en hokkie-uitrusting aan die skool geskenk.

Dié fondsinsamelingsprojek is onlangs deur die skool op die been gebring en al die fondse wat die skool insamel sal aangewend word om ‘n nuwe skoolbus aan te koop.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir AVS Transvaal nie. Julle donasie tot dié projek gaan ons beslis baie help. Baie dankie vir julle omgee en betrokkenheid by ons skool,” eindig die skoolhoof Julius Katzke.

Exit mobile version