Randfontein Hokkieklub sneuwel teen Eagles

Verloor 4-2 met agt spelers.

Al het hulle teen Golden Eagles verloor het die manne van Randfontein Hokkieklub met agt spelers twee doele teen vier aangeteken.

Volgens die klubkaptein van Randfontein Hokkieklub, Pieter Liebenberg het dié kragmeting onlangs by die Universiteit van Johannesburg (UJ) plaasgevind. Hy vertel verder dat Randfontein ongelukkig op die dag nie voltallig was nie en die wedstryd met slegs agt spelers moes deurbring.

“Die spel was van die begin fluitjie af met ‘n enorme pas gespeel en die manne van Randfontein moes van die eerste minuut af alles gee om die pas vol te hou,” vertel Liebenberg.

Hy vertel dat Golden Eagles die eerste punte op die telbord gesit het.

Tog het dit die manne van Randfontein nie afgeskik nie, en was hulle ook glad nie van plan om op te gee nie en het met mening teruggeveg.

“Die wedstryd het vurig geraak na kontroversiele besluite van die skeidsregter maar was gou onder beheer gebring en die wedstryd was in ‘n goeie gees deurgesien tot die einde,” vertel Liebenberg.

Ten spyte van hul nederlaag is Randfontein Hokkieklub nogsteeds in die wedloop om moontlik eerste of tweede in die liga te eindig.

Volgens Liebenberg wil dié span graag eerste eindig met die volgende vier wedstryde wat nog voorlê.

“Indien ons dit kan vermag sal ons volgende jaar een liga opskuif en in die Suid Gauteng Hokkie A-liga meeding,” vertel Liebenberg.

Hy vertel verder dat Randfontein se doele deur Tshepang Khunou en Marne Barnard aangeteken was.

Liebenberg is ook tydens die kragmeting as man van die wedstryd aangewys.

Exit mobile version