Rierand o.15-rugbyspan kwalifiseer vir Beeldtrofee

Skool glo span staan 'n goeie kans om beker te wen.

Hoërskool Riebeeckrand se o.15-rugbyspan beloof om hul skool trots te maak tydens vanjaar se Beeldtrofee vir Groot Skole nadat die span gekwalifiseer het.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, is die span se eerste kragmeting binnekort weg van die huis af teen Hoërskool Tuine.

Klop hulle die Pretoriaanse-skool, is die kwarteindrondte hul voorland.

“Die spelers van Hoërskool Riebeeckrand het die afgelope skoolvakansie hard gewerk en wil vir seker tot die volgende rondte van die Beeldtrofee deurdring,” verduidelik Kruger.

Hy vertel ook dat dié manne onlangs teen Hoërskool Rustenburg in ‘n vriendskaplike wedstryd te staan gekom het as voorbereiding vir die Beeldtrofee.

“Die seuns het puik teen Hoërskool Rustenburg gevaar en staan ‘n goeie kans om tydens vanjaar se Beeldtrofee koning te kraai,” vertel Kruger.

“Die wedstryd teen Hoërskool Tuine is die belangrikste wedstryd wat die seuns al ooit gespeel het, maar ek weet dat hulle gemotiveerd is en dat ons voorbereiding deeglik gedoen is. Ek glo dat die beste span op die dag sal wen en dat ons ‘n plek in die kwarteindrondte sal bespreek.”

Die bestuur en afrigters van Hoërskool Riebeeckrand wens die seuns alle sterkte toe en glo dat dit met hulle sal goed gaan.

Exit mobile version