Rierand slaggereed vir ‘Coke-reeks’

"Ons sien uit om ons merk in dié reeks te maak" — afrigter.

Hoërskool Riebeeckrand wil dit duidelik maak dat hulle ‘n span is om mee rekening te hou wanneer vanjaar se Roodepoort Rugbyklub-reeks (voormalige Coke-reeks) binnekort afskop.

Dié plaaslike skool sien baie uit na die reeks en is tans volstoom besig om daarvoor voor te berei.

Volgens die bemarker van Hoërskool Riebeeckrand, Rickus Kruger, vind dié reeks jaarliks by Roodepoort Rugbyklub plaas.

“Skole soos Monument, Middelburg, Kempton Park, Florida en Marais Viljoen sal in dié reeks met mekaar kragte meet. Daarom sien ons baie uit daarna om ons merk in dié reeks te gaan maak,” vertel Kruger.

Die afrigters van Riebeeckrand se ‘Coke-span’, Devon Tromp, Boetie Luus, Bertus Luus en Ruan McAllister glo dat die toernooi perfekte voorbereiding vir die 2015-rugbyseisoen gaan wees.

“Die afrigters en spelers is reeds besig met voorbereiding vir die toernooi en beplan om vanjaar ‘n positiewe impak met positiewe rugby en goeie sportmanskap te maak,” vertel Kruger.

“Die voorbereiding word deeglik gedoen en die seuns is hard besig met oefeninge en die vorming van spelpatrone.”

Die o.15-rugbyspan neem ook deel aan die toernooi se o.15-afdeling en na afloop van ‘n puik seisoen in die liga sal hulle graag saam met Riebeeckrand se senior span die skool se naam wil hooghou.

“Ons wens die spelers alle sterkte toe met die reeks,” vertel Kruger ten slotte.

Exit mobile version