Local sportSportUpdate

Teine beroof van oorwinning

Wedstryd teen Wits kortgeknip – "Skiedsregter glo nie gelukkig met toeskouers nie."

Was dit nie vir die kortknip van die wedstryd tussen Wits en Teine se eersterugbyspanne nie – wat deur plaaslikes as onnodig beskou word – sou Teine beslis dié kragmeting beklink het, meen Randfontein-afrigter Jacques Conradie.

Volgens Conradie het die skeidsregter die kragmeting tussen Mapogo Teine en Wits in die 35ste minuut van die eerste helfte sonder rede en oorhaastig stopgesit. In so ‘n geval sê die reëls dat die wedstryd dan gelykop verklaar moet word maar die probleem is dat Mapogo Teine op dié stadium met ‘n telling van 17-10 voor was.

“Alhoewel die kragmeting vroeg geëindig is, was dit beslis die grootste verrassing in vanjaar se liga,” vertel Conradie.

“Teine het die wedstryd met groot ywer begin en binne die eerste 15 minute twee puik drieë gedruk. Dié drieë is deur Errard Ernsting en Tarquin Mulder aangeteken en Teine se losskakel Rudi Marx het met twee vervyfskoppe en ‘n strafskop geslaag.”

Conradie vertel verder dat die betrokke skeidsregter na afloop van die wedstryd geen rede vir sy besluit gegee het nie maar wel verduidelik het dat hy nie gelukkig was met die toeskouers wat langs die telbord en so naby aan die veld was nie.

“Toe die bestuur van Randfontein Rugbyklub hom vra of hy bedreig gevoel het of deur die toeskouers gedreig is, het hy ook ‘nee’ geantwoord,” vertel Conradie.

“Ons almal by Randfontein Rugbyklub voel dat ons eerstespan van ‘n oorwinning beroof is en dat die skeidsregter se besluit onnodig was.”

Na afloop van die kort wedstryd is Marx en Ernsting gesamentlik as spelers van die wedstryd aangewys. Verder het Randfontein se derdespan uitgeblink toe hulle die manne van Wits met ‘n telling van 34-15 wen.

Randfontein se tweedespan moes ongelukkig met ‘n 27-20 nederlaag tevrede wees, maar sal steeds aan die halfeindstryd deelneem.

Related Articles

Back to top button