Local sportSport

Drie medaljes vir Randgate Amateurboksklub by SA’s

Boksers keer terug met twee goud en een bronsmedalje.

Vier van Randgate Amateurboksklub se top Elite (senior) boksers het nie teleurgestel tydens die Suid-Afrikaanse Elite Bokskampioenskappe wat onlangs in Oos-London plaasgevind het nie.

Volgens Willie Consalves, afrigter by Randgate Amateur Boksklub is hy uiters trots op sy boksers se prestasies tydens dié gesogte kampioenskappe.

Consalves vertel dat Bernice van Heerden, Harry Joubert, Fernando Rodriques en Fransisco Rodriques aan dié kampioenskappe deelgeneem het en hulself goed van hul taak gekwyt het.

“Tydens dié kampioenskappe het Randgate Amateur Boksklub twee gouemedaljes en een bronsmedalje ingepalm,” vertel Consalves.

Hy vertel dat Van Heerden in die 51kg-afdeling deelgeneem het, en baie goed gevaar het. Met puik vaardighede en baie stamina het Van Heerden haarself van die bronsmedalje verseker.

“Harry Joubert, wat in die 56kg-afdeling meegeding het, het self puik gevaar. Alhoewel hy nie ‘n medalje ontvang het nie, het hy teen ‘n groot groep boksers meegeding, maar ongelukkig in die tweede rondte van die kwarteindstryd uitgesak,” vertel Consalves.

Fernando Rodriques het vir Randgate hul eerste gouemedalje in die 91kg-afdeling verseker nadat hy sy opponent in die tweede rondte van die finale kragmeting planke toe gestuur het.

“Fransisco Rodriques het in die 91+ kg-afdeling meegeding. Hy het puik geboks en in sy eerste geveg van die kampioenskappe sy opponent binne die eerste vyf sekondes ‘n uitklophou toegedien. Tydens sy tweede geveg, vir die gouemedalje, het hy weer goed geboks en sy opponent op punte oorheers,” vertel Consalves.

Related Articles

Back to top button