Local sportSportUpdate

Teine klop Alberton in hul agterplaas

Eersterugbyspan bo na naelbytsege van 22-20 oor Oos-Randers.

Die manne van Randfontein Rugbyklub se eerstespan het ‘n haas uit die hoed gepluk deur weg van die huis af met 22-20 met Alberton af te reken.

Volgens die afrigter van Randfontein se eerstespan Jacques Conradie het dié kragmeting op 28 Junie aan die Oos-Rand plaasgevind.

“Alhoewel Alberton tuisveldvoordeel geniet het, het dit ons nie afgeskrik nie,” sê Conradie.

Tydens dié titaniese stryd het Errard Ernsting, LJ van Heerden en Dean Krynauw agter die opposisie se doellyn gaan kuier. Randfontein se losskakel, Rudi Marx het ook met twee vervyfskoppe en ‘n strafdoel geslaag.

Verder het die tweedespan van Randfontein met ‘n telling van 41-0 gewen terwyl die derdespan na 80 minute van harde rugby gelykop met ‘n telling van nul elk geëindig het.

Die junior spanne kon ongelukkig nie die manne van Alberton stop nie en die o.21’s en o.19’s het verloor. Die telling van die o.21-span was 21-0 in die guns van Alberton terwyl die o.19’s met een punt (8-7) verloor het.

Conradie vertel verder dat hulle op 5 Julie met die manne van die Potchefstroom Universiteit (Pukke) moes kragte meet maar ongelukig het Pukke weens die Universiteiteweek in Grahamstad uit dié kragmeting onttrek.

“Alhoewel ons nie teen die Pukke kon speel nie, sien ons uit na die volgende twee wedstryde waarvan beide tuiswedstryde sal wees,” vertel Conradie.

Randfontein Rugbyklub sal op 11 Julie teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) te staan kom en op 19 Julie sake teen die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) uitspook.

“Ons as klub wil ook net baie dankie sê aan ons nuwe borge wat die klub tydens elke wedstryd bystaan en ondersteun. Julle betrokkenheid by die klub maak werklik ‘n verskil,” vertel Conradie.

Dié borge is Mapogo A Mathamaga, FSK, MTI en Klipdrift.

“Ons is werklik bevoorreg om dié maatskappye op die rugbyveld te verteenwoordig,” vertel Conradie.

Related Articles

Back to top button