W’aria domineer Jaap Steyn Rugbyliga

Westonaria Rugbyklub die JaapSteyn liga-wenners na sege oor Zeerust.

Westonaria Rugbyklub het onlangs die voorreg gehad om in die finaal van die Jaap Steyn Rugbyreeks te speel.

Hulle het boonop met oortuigende spel en puik spanwerk ‘n welverdiende oorwinning verseker.

Volgens die afrigter van Westonaria Rugbyklub, Herman Louw het dié span teen die manne van Zeerust Rugbyklub te staan gekom.

“Die feit dat ons die tuisveldvoordeel gehad het, het ons beslis gehelp,” vertel Louw.

Hy vertel verder dat die eerste helfte ‘n baie harde en fisieke stryd was.

Zeerust het in die eerste 10 minute van die wedstryd agter Westonaria se pale gaan kuier en met 5 – 0 voorgeloop.

Westonaria het dadelik terugbaklei en Lunga Menziwa, die Westonaria-losskakel het ‘n strafdoel deur die pale gejaag.

“Kort voor halftyd het Menziwa weer met ‘n strafskoppoging geslaag en Westonaria met ‘n 6-5 voordeel halftyd laat begin,” vertel Louw.

Met die aanbreek van die tweede helfte was die manne van Westonaria vuur en vlam. Hulle het dadelik die bal gewen van hul eie afskop af en in die opposisie se doelgebied gaan kuier.

“In die 62ste minuut het Westonaria weer deur die verdediging gebreek en weereens agter die pale gaan kuier,” vertel Louw.

Na 80 minute se harde rugby het Westonaria met ‘n telling van 23-10 gewen en sodoende ook vanjaar se Jaap Steyn Rugbyreeks gewen.

“Ons almal by Westonaria Rugbyklub bedank ons ondersteuners vir hul pligsgetroue ondersteuning. Dit word raakgesien en opreg waardeer,” vertel Louw.

Hy vertel verder dat Westonaria Rugbyklub in 2003 laas die Jaap Steyn Rugbytrofee kon verower.

Exit mobile version