Teine kom teen Pirates te staan

Randfontein Rugbyklub swyg voor die manne van Pirates tydens hul onglangse tuiswedstryd.

Die Randfontein Rugbyklub het weer onlangs teen die manne van Pirates te staan gekom toe Pirates en Teine op Randfontein se velde kragte gemeet het.

Alhoewel beide klubs puik gevaar het, was die aanslae van Pirates te groot en die manne van Randfontein het onder die druk gevou.

Die enigste span wat die manne van Pirates oorheers het, was die tweede span van Randfontein Rugbyklub.

Dié span het in ‘n naelskraap wedstryd die oorhand gekry en Pirates met ‘n telling van 32 – 21 geklop.

“Met die wen teen Pirates behou Randfontein Rugbyklub se tweedespan hul onoorwonne status.

“Die tweedes, wat as die Eagles bekend staan, speel tans puik rugby en verdien beslis hul plek bo aan die punteleer,” vertel verteenwoordiger van Randfontein Rugbyklub en eerstespan afrigter, Jacques Conradie.

Tydens dié kragmeting het Tarquin Mulder, Ian Pottas, Carel van Lill en JP Huiseman agter die doellyn gaan kuier.

Tiaan Nel het ook ‘n goeie dag op kantoor gehad en slaag met drie vervyfskoppe en twee strafskoppe.

“Ongelukkig kon Randfontein se eerstespan nie die knoop deurhaak teen Pirates nie.

“Alhoewel die eindtelling 33 – 10 in Pirates se guns was, was dit ‘n besonderse dag en ons as klub bedank al ons borge, Mapogo a Mathamaga, FSK en MTI wat dié geleentheid spesiaal gemaak het,” vertel Conradie.

Verder het Randfontein se derdespan ook met ‘n telling van 12 – 3 verloor, terwyl die o.21 manne met ‘n 26 – 24 nederlaag moes tevrede wees.

Randfontein se o.19 manne het ook gesukkel om die mas op te kom en moes na ‘n 8 – 5 nederlaag terug kleedkamers toe stap.

Randfontein Rugbyklub se volgende tuiswedstryd vind op Saterdag, 5 Julie teen die Universiteit van Potchefstroom plaas.

Vir meer fotos: Kliek hier

Exit mobile version