Randfontein boksers blink uit by SA’s

Randgate Amateur Boksklub spog met nege medaljes tydens die Suid-Afrikaanse Junior en Jeug Bokskampioenskappe.

Randgate Amateur Boksklub het weer tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Junior en Jeug Bokskampioenskappe gewys dat van SA se top amateur boksers op plaaslike bodem gewkeek is.

Volgens die eienaar van Randgate Amateur Boksklub, Willie Consalves, het Randgate Boksklub vanjaar nege junior en jeug boksers opgelewer.

“Dié groep boksers het onglangs aan die Suid-Afrikaanse Bokskampioenskappe in Pretoria deelgeneem en hulself goed van hul taak gekwyt,” vertel Consalves.

Hy vertel verder dat Randgate Amateur Boksklub met nege medaljes tydens dié kampioenskappe weggestap het.

Van dié nege medaljes spog Randgate Amateur Boksklub met vier goue medaljes, twee silwer medaljes en drie brons medaljes.

“Ek is werklik trots op elkeen van die boksers.

“Hulle het baie hard geoefen die afgelope jaar en beslis die kollig tydens die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe gesteel,” vertel Consalves.

Consalves vertel ook dat die eerste Randgate bokser om in die kryt te klim Philamon Mathlana was.

“Philamon het in die 46kg-afdeling baklei en ‘n brons medalje verower.”

Verder spog Eddie Webb en Delano Dobson ook met brons medaljes.

Michelle Webb en Tertius Joubert het elkeen ‘n silwer medalje verower, terwyl Karien Claase, Demorné van der Walt, Christie Claase en Frank Rodriques almal met die algehele eerste plek in hul gewigsafdelings weggestap het.

Exit mobile version