Randfontein atlete blink uit by SA’s

Hein Maré se atlete hardloop weer stof in hul opponente se oë tydens die Suid-Afrikaanse Atletiek Kampioenskappe.

Hein Maré spog weer vanjaar met sewe atlete uit sy oefengroep wat aan die Suid-Afrikaanse Atletiek Kampioenskappe deelgeneem het.

Volgens Hein, oefen dié atlete daagliks om in hul geliefde sportsoort uit te blink.

“Liza Kellerman, Lizerie Ferreira en Ezra Ferreira het vanjaar op beide skool en klub vlak aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem en hulself goed van hul taak gekwyt,” vertel Hein.

Hy vertel verder dat dié drie atlete vanaf 26 tot 28 Maart aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiek Kampioenskappe deelgeneem het.

Lizerie het tydens dié kampioenskappe ‘n goue medalje in die 800m dogters o.18 en ‘n silwer medalje in die 1500m dogters o.18 verower, terwyl Ezra ‘n goue medalje in die 800m seuns o.15 lossgehardloop het.

Liza het ‘n brons medalje in die 400m dogters o.15 asook ‘n goue medalje in die 800m dogters o.15 verower.

“Die drie atlete het weer vanaf 3 tot 5 April aan die Suid-Afrikaanse Klub Kampioenskappe deelgeneem en daar ook puik gevaar,” vertel Hein.

Tydens die klub kampioenskappe verover Lizerie ‘n silwer medalje in die 800m en ‘n goue medalje in die 1500m. Ezra het homself van ‘n brons medalje in die 800m verseker, terwyl Liza ‘n algehele tweede plek in die 1500m asook ‘n eerste plek in die 800m behaal het.

In die laerskole afdeling het Sandra Wijtenburg ook groot opslae gemaak toe sy ‘n algehele derde plek in die 1200m behaal het.

“Met die Junior klub kampioenskappe agter die rug, het Cornelia Joubert en Lizerie Ferreira op 10 April aan die Suid-Afrikaanse Senior Atletiek Kampioenskappe deelgeneem,” vertel Hein.

“Lizerie het tydens dié kampioenskappe ‘n algehele viede plek in die 1500m behaal terwyl Cornelia die 10 000m vir vroue gedomineer het en haarself van ‘n goue medalje verseker het.”

Lizerie het ook op 9 en 10 Mei aan die Suid-Afrikaanse Ope deelgeneem en weereens ‘n goue medalje in die 1500m verower.

“Cornelia het vanjaar die geleentheid gehad om aan die Wêreld Halfmarathon Kampioenskappe in België deel te neem, alhoewel Cornelia nie so goed gedoen het soos ons gehoop het nie, het sy steeds baie goed gevaar,” vertel Hein.

“Gavin da Silva het ook vanjaar sy merk op die Suid-Afrikaanse Meesters Kampioenskappe gemaak. Hy het in die 30 tot 34 jarige afdeling deelgeneem en homself van drie goue medaljes, in die 400m, 800m en die 1500m verseker.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version