‘n Liefde vir motorsport bruis deur sy are

'n Liefde vir motorsport is vandag nog die hartklop van Roelf du Plessis se sukses op die renbaan.

Randfontein lewer al jare lank topklas nasionale renjaers op en een van dié groot name in motorsport is Roelf du Plessis.

Roelf is ‘n Randfonteiner wat al vir byna 20 jaar in die Suid-Afrikaanse Sport- en V8 GT-motorsportklas meeding.

Hy het al drie keer dié gesogte titel opgeraap.

“My liefde vir motorsport het as jongman ontwikkel,” vertel Roelf.

Hy verduidelik dat hy jare gelede vir die plaaslike renjaerlegende Ben Morgenrood gewerk het.

“Ben het my alles geleer wat ek van motorsport weet en vandag nog na jare saam op die renbaan, noem mederenjaers vir Ben steeds my renjaer-pa,” vertel Roelf.

Voor Roelf in die V8-reeks meegeding het, het hy ook opslae in die Group Ends-reeks gemaak.

In 1997 verruil hy egter sy MX6 vir die V8 en sedertdien het hy verskeie hoogtepunte beleef.

Volgens Roelf het hy tussen 1999 en 2001 die rondterekord op elke renbaan in Suid-Afrika gehou.

Hy vertel dat baie van dié rekords vandag nog staan.

“My liefde vir motorsport het vinnig ook my dogter se passie geword.

“Sy neem tans aan die go-kart reeks deel en ek help haar tydens haar wedrenne. Ons wedrenne vind ongelukkig gereeld op dieselfde dag plaas en dan kan ek nie in die V8-reeks ry nie,” vertel Roelf.

“Maar wanneer daar ‘n oop datum is, dan maak ek ‘n punt daarvan om my 2010 Corvette Z06 renbaan toe te vat en in die V8-reeks deel te neem.”

Roelf is verlede jaar genooi om aan die finaal van dié reeks deel te neem. Hy vertel dat Ben Morgenrood hom vir dié wedren geborg het.

“Ek het daar 18de op die baan gekwalifiseer en na agt rondtes om Kyalami het ek die wedren in die derde plek voltooi,” vertel Roelf trots.

Kort daarna is dié Randfonteinse spoedvraat genooi om aan die Legend-reeks in Las Vegas in die VSA deel te neem.

“Dit was een van my persoonlike hoogtepunte in my loopbaan. Met ons aankoms by die Las Vegas Motor Speedway was my Legend-kar gereed om met die ander 89 karre op die baan mee te ding,” vertel Roelf.

Hy het daar derde gekwalifiseer, maar moes 12de op die rooster wegspring.

“Toe ons die eerste draai op die baan vat, het ek klaar weer derde gelê en dié posisie regdeur die wedren behou, maar in die laaste rondte my kar se enjin die gees gegee en moes ek die aftog blaas,” vertel Roelf.

Hy vertel verder dat indien hy borge kan kry vir die 2015 Sports en V8-reeks, sal hy graag weer die SA-titel wil najaag.

Exit mobile version