Teine gereed vir Pirates Rugbyliga

Na 'n goeie opwarming tydens die Assupol Rugbyreeks, is die manne van Randfontein Rugbyklub gereed om hul merk op die Pirates Rugbyliga te maak.

Greenhills — Met die afskop van die welbekende klubrugbyreeks, die Pirates Rugbyliga, is die manne van Randfontein Rugbyklub vuur en vlam om hul stempel op vanjaar se Pirates liga af te druk.

Volgens die klubbestuurder van Randfontein Rugbyklub Cathy Holton, het Randfontein Rugbyklub onlangs aan die Assupol rugbyreeks deelgeneem en alhoewel hulle baie goeie rugbyvaardighede ten toon gestel het, het hulle ongelukkig tydens dié reeks uitgeval.

“Tog was die Assupol reeks vir ons as klub baie goeie voorbereiding vir die Pirates Liga,” vertel Cathy.

Sy vertel verder dat die manne van Randfontein tans besig is met voorbereiding en baie hard oefen om gereed te wees vir dié liga.

Die Pirates Liga bestaan uit 12 klubs en universiteite en is die hoogste vorm van klubrugby in die land.

“Alhoewel Randfontein se eerste wedstryd in die liga ongelukkig uitgestel moes word, sal die Teine wel op 10 Mei teen die Raiders te staan kom in hul eerste wegwedstryd vir die seisoen,” vertel Cathy.

“Die Teine se eerste tuiswedstryd sal op 17 Mei teen die Diggers by die Greenhills Sportstadium plaasvind.

“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om hul plaaslike rugbyspelers tydens dié geleentheid te kom ondersteun.”

Cathy herinner ook die gemeenskap dat die Randfontein Rugbyklub Super Rugby en Curriebeker rugbykaartjies het vir alle wedstryde wat op Ellispark gespeel word.

Dié kaartjies kan by die klub gekoop word teen R30 vir ‘n hoofpaviljoen kaartjie en R50 vir ‘n Suide-kant losie kaartjie.

Vir meer inligting rondom die klub se ligawedstryde, datums en kaartjieverkope, skakel gerus vir Cathy by 082 342 4392.

Exit mobile version