Goue Leeus besoek Randfontein Rugbyklub

Randfontein Rugbyklub geniet direkte betrokkenheid van die Goue Leeus Rugby Unie by die klub.

Alhoewel die Goue Leeus Rugby Unie nog altyd by Randfontein Rugbyklub betrokke was, het dié Unie dit goedgedink om vanjaar direk by die klub en sy aktiwiteite in te skakel.

Om die nuwe inisiatief in werking te bring, het Goue Leeus Amateur Rugby Bestuurder, Pieter Visser, op 11 Februarie die Randfontein Rugbyklub besoek.

Die doel van die besoek was bloot om te sien waarmee die klub besig is en hoe die Goue Leeus Rugby Unie die klub kan bystaan.

Volgens die Voorsitter van Randfontein Rugbyklub, Boats Botha, is dit vir die klub ‘n groot voorreg om die direkte bystand van die Goue Leeus Rugby Unie te ontvang.

“Die Leeus se bystand en belangstelling in ons klub se aktiwiteite word hoog op prys gestel en beteken beslis baie vir elke amateur rugbyspeler by die klub,” vertel Boats.

Boats vertel verder dat ‘n verteenwoordiger van die Goue Leeus Rugby Unie ook gedurende die seisoen gereeld klubvergaderings sal bywoon om soedoende meer intiem by die klub betrokke te raak.

“Die verteenwoordigers van die Goue Leeus Rugby Unie wat dié vergaderings gaan bywoon sal Pieter Visser of Kevin de Klerk wees,” vertel Boats.

Vanjaar beloof weer om ‘n groot jaar by Randfontein Rugbyklub te wees en volgens Boats is die spelers al reeds volstoom besig met voorbereiding vir die opkomende seisoen.

“Die oefening bywoning is vanjaar puik en talle spelers in die gemeenskap het by die klub ingeskakel.

“Ons doen nietemin steeds ‘n beroep op rugbygeeste in die gemeenskap om by die klub aan te sluit en deel van vanjaar se sukses te wees,” vertel Boats.

Vir meer inligting of navrae, skakel gerus die Randfontein Rugbyklub se klubbestuurder, Cathy Holton by 082 342 4392.

Exit mobile version