Randgate Boksklub bied Gauteng Kampioenskappe aan

Boksers van regoor Gauteng kom wys hul staal by Randgate Amateur Boksklub tydens die Gauteng Junior en Youth Bokskampioenskappe.

Randgate Amateur Boksklub het op 23 en 24 Augustus die kans gehad om die Gauteng Bokskampioenskappe aan te bied.

Dit is tydens dié geleentheid dat Randgate Amateur Boksklub gewys het dat Randfontein boksers beslis die beste in die weste is.

Dit nadat 10 van dié klub se boksers gekwalifiseer het om aan die Suid-Afrikaanse Bokskampioenskappe deel te neem.

Volgens die eienaar en hoofafrigter by Randgate Amateur Boksklub, Willie Gonsalves, moes die boksers tydens die Gauteng Kampioenskappe ‘n goue medalje verower om deur te dring na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe.

“Ek is baie trots op my boksers. Hulle het baie goed gevaar tydens die Gauteng Kampioenskappe en is tans volstoom besig om voor te berei vir die Suid-Afrikaanse Bokskampioenskappe wat vanaf 24 – 29 September in Bethlehem plaasvind,” vertel Willie.

Dié junior seuns wat vir die SA Kampioenskappe gekwalifiseer het is Phillamon Mathlana en Justin du Toit.

Innes Herbst en Frank Rodrigues is die Senior seuns van die klub wat by die SA Kampioenskappe sal deelneem.

Verder is Louise Webb die enigste senior dogter wat by die SA’s sal deelneem.

Randgate Amateur Boksklub spog vanjaar met vyf junior dogters in die Suid-Afrikaanse span.

Hulle is Claudia Herbst, Christie Claase, Karien Claase, Michelle Webb en Demorné van der Walt.

Willie is ook tydens die Gauteng kampioenskappe aangewys as die amptelike afrigter vir die Suid-Afrikaanse Bokskampioenskappe.

Exit mobile version