Cornelia hardloop in Wêreld Senior Kampioenskappe

Cornelia Joubert sal gedurende Augustus aan die Wêreld Senior Atletiekkampioenskappe in Mosco, Rusland, deelneem.

Nadat Cornelia Joubert vir haarself ‘n eerste plek in die Suid-Afrikaanse Marathon Kampioenskappe verseker het, fokus sy nou daarop om haar merk op die internasionale atletiekfront te maak.

Cornelia het al reeds verskeie hoogtes tydens vanjaar se atletiekseisoen bereik en streef daarna om tydens elke wedloop wat sy aanpak beter te presteer.

Volgens haar afrigter, Hein Maré, doen Cornelia uiters goed vanjaar en het haarself goed van haar taak gekwyt toe sy die Suid-Afrikaanse Marathon Kampioenskappe gedomineer het.

“Na afloop van die Suid-Afrikaanse Marathon Kampioenskappe, was Cornelia ook uitgenooi om aan die Orange Marathon in Mauritius deel te neem.

“Tydens die geleentheid het Cornelia weer stof in al haar opponente se oë geskop en die 42.2 kilometer wedloop in slegs 2.39:37 voltooi,” vertel Hein.

Die persoon wat in tweede plek oor die wenstreep genael het, was meer as sewe minute agter Cornelia.

Met die besonderse tyd waarin sy die Orange Marathon voltooi het, het sy ook gekwalifiseer om aan die Senior Wêreld Atletiekkampioenskappe deel te neem.

Dié kampioenskappe sal gedurende Augustus in Moscow, Rusland plaasvind.

Exit mobile version