Geniet die Curriebeker in styl

Rugbyliefhebbers kan nou daarna uitsien om die Curriebeker teen bekostigbare pryse te geniet, danksy Randfontein Rugbyklub.

Randfontein Rugbyklub is trots om deel van die Goue Leeus Rugby Unie te vorm en gee nou vir elke inwoner van Randfontein die geleentheid om ‘n Curriebekerwedstryd in styl te aanskou.

Volgens ‘n verteenwoordiger van Randfontein Rugbyklub, Willie Hunter, het die klub ‘n baie gerieflike losie by Ellispark Rugbystadion en wil hulle graag dié gerief met die inwoners van Randfontein deel.

Randfontein Rugbyklub het baie moeite gedoen om die losie op te gradeer.

Daarom het hulle dit goed gedink om tydens vanjaar se rugby Curriebeker hul hoofpaviljoenkaartjies aan die gemeenskap beskikbaar te stel sodat elke rugbyliefhebber in Randfontein die kans kan kry om ‘n wedstryd by dié asemrowende stadion te beleef.

“Ons het besluit om ons hoofpaviljoenkaartjies vir R20 per kaartjie te verkoop.

“Die prys bied jou die geleentheid om die Randfontein Rugbyklub se losie te besoek waar daar ligte fingerhappies beskikbaar sal wees, en jy mag dan ook van die kontantkroeg gebruik maak,” vertel Willie.

Aangesien die Curriebekerdatums klaar vasgestel is, is die kaartjies vir alle wedstryde reeds by Randfontein Rugbyklub beskikbaar.

Daarom is dit ‘n goeie idee om jou kaartjies so gou as moontlik te bespreek en by die klub af te haal.

Die geld wat die rugbyklub op dié wyse invorder gaan aangewend word vir die klub se instanthouding.

“Vanjaar se Curriebeker beloof om groot pret te wees en met pryse soos dié kan niemand dit bekostig om die geleentheid mis te loop nie.

“Daarom doen ek ‘n beroep op die gemeenskap om die klub te ondersteun in die projek,” vertel Willie.

Daar is kaartjies vir al die wedstryde wat op Ellispark gespeel word.

Die eerste wedstryd waarna die gemeenskap kan uitsien, is die kragmeting tussen die Goue Leeus en die Vrystaat Cheetahs op 10 Augustus.

Daarna volg die kragmeting tussen die Leeus en die Westelike Provinsie op 30 Augustus.

Die volgende wedstryd sal dan tussen die Goue Leeus en die Vodacom Bou Bulle op 21 September wees en op 27 September sal die Leeus teen die Sharks te staan kom.

Die laaste wedstryd wat op Ellispark gespeel sal word is tussen die Leeus en die Griquas op 12 Oktober.

Vir kaartjiebesprekings en verdere inligting skakel gerus vir Willie Hunter by 082 335 7348.

Exit mobile version