BRIEF: Jongste misdaadstatistieke kommerwekkend

'Navorsing toon dat slegs 27% van die publiek nog die polisie vertrou. Uiteindelik is dit die onbevoegdheid van die regering wat bygedra het tot die feit dat die polisie sy angel verloor het en vir die gebreke in die strafregstelsel.'

• Dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier skryf:

Luidens die polisie se jongste misdaadstatistieke was die moordsyfer in Suid-Afrika in die tweede kwartaal vanjaar (April tot Junie) die hoogste in die afgelope vyf jaar. Veral geweldsmisdaad teen vroue en kinders het skerp toegeneem.

Lees ook: Sterk optrede nodig om vroue en kinders te beskerm

Altesame 6 424 mense is in die tweede kwartaal vanjaar vermoor (11 uit 100 000) teenoor 5 760 verlede jaar, ‘n toename van 11,5%. Teenoor die eerste kwartaal vanjaar het dit met 5,61% toegeneem. Moord op vroue het met 53,2% toegeneem (teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar) en op kinders met 46,4%.

Ander geweldsmisdaad teen vroue en kinders het ook toegeneem.

Daar was ‘n toename van 31,4% in poging tot moord op vroue en 54,7% in aanranding met die opset om ernstig te beseer. Wat kinders aanbetref, is die syfer vir aanranding met die opset om ernstig te beseer nog hoër op met 58,4% en poging tot moord met 57,4%.

Die meeste voorvalle (13 799) wat moord, poging tot moord en ernstige aanranding aanbetref, het dan ook in die slagoffer of aanvaller se woonhuis plaasgevind. In die algemeen het ernstige kontakmisdaad soos poging tot moord met 8,4% toegeneem (5 576 gevalle teenoor 5 145 verlede jaar) en roof met verswarende omstandighede met 4% (35 233 teenoor 33 876).

Lees ook: LETTER: We need to protect and defend women at all costs

Minder ernstige kontakmisdaad en seksuele oortredings toon wel ‘n afname teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Die realiteit is egter dat daar oor die laaste vyf jaar in feitlik alle gevalle ‘n geleidelike toename in hierdie soort misdaad was. Die afname in seksuele oortredings waar vroue en kinders meestal die slagoffers is, word verwelkom. Die VF Plus doen nogtans ‘n beroep op slagoffers om na vore te kom.

Ernstige probleme met onder meer DNS-toetsing by die polisie se laboratoriums het in die laaste jare ‘n groot invloed gehad op die afhandeling van sake en die vervolging van sekuele oortreders.

Hoe ‘n groot rol dit speel in die feit dat slagoffers moontlik moed opgegee het om sake aan te meld, is ‘n ope vraag.

Ook kommerwekkend is die feit dat die gevreesde trio-misdade, wat insluit roof by woonhuise en motorkapings, landwyd met 4,9% toegeneem het. Altesaam 16 517 voorvalle is in die tweede termyn vanjaar aangemeld teenoor 15 747 verlede jaar. Motorkapings het skerp gestyg met 5 866 voorvalle teenoor 5 146 verlede jaar.

Daar was in dié tydperk 5 370 rooftogte by woonhuise teenoor verlede jaar se 5 346.

Lees ook: Women’sMonth: Westonaria cops lead march against violence

Nog ‘n kommerwekkende tendens is die deurlopende skerp toename in ontvoerings. Dit het in die tweede kwartaal vanjaar toegeneem met 59,1% (3 550) teenoor verlede jaar se 2 232. In die eerste kwartaal vanjaar het dit toegeneem met 109,2% teenoor verlede jaar. Dit is duidelik dat ‘n strategie hiervoor dringend nodig is.

Daar was ‘n effense afplatting in die aantal plaasmoorde met 10 slagoffers teenoor die 14 slagoffers verlede jaar. In die eerste drie maande vanjaar is 12 moorde aangemeld. Ek het gevra dat die aantal plaasaanvalle ook aangedui moet word wat nie gedoen is nie, en ek sal dit opvolg in die parlement se portefeuljekomitee vir polisie.

Die afname in plaasmoorde word wel verwelkom. Dit bewys dat landelike gemeenskappe self beter beveiliging begin toepas.

Navorsing toon dat slegs 27% van die publiek nog die polisie vertrou. Uiteindelik is dit die onbevoegdheid van die ANC-regering wat bygedra het tot die feit dat die polisie sy angel verloor het en vir die gebreke in die strafregstelsel.

Exit mobile version