Opinion

BRIEF: SA in ‘n energiekrisis, ekonomiese ramp

Energievoorsiening in Suid-Afrika – en daarom die landsekonomie – kan 'n ANC-regering nie langer bekostig nie – VF Plus-LP en hoofwoordvoerder.

• Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Minerale hulpbronne en energie skryf:

Suid-Afrika se energiekrisis het ontaard in ‘n ekonomiese ramp. Suid-Afrikaners is nou vir oorlewing afhanklik van elektrisiteit wat nie beskikbaar is nie en vloeibare brandstof wat nie bekostigbaar is nie.

Boonop word van huishoudings en ondernemings, wat toenemend op vloeibare brandstof aangewese is vir hul energiebehoeftes, verwag om brandstofheffings te betaal wat uitsluitlik ingestel is vir padgebruikers.

Te midde van fase 6-beurtkrag het landsburgers gehoor dat petrol en diesel se prys hierdie maand weer skerp styg. Petrol met tot R2,57 per liter en diesel met R2,30 per liter. Bykans alle petroleumprodukte sal voortaan meer as R25 per liter kos. Hoewel ‘n land se ekonomie gewoonlik in geldterme gemeet word, is energieverbruik ‘n meer akkurate weergawe daarvan. Geldeenhede se wisselende waarde maak dit moeilik om presies vas te stel hoeveel ekonomiese aktiwiteit deur ‘n sekere aantal dollar of rand verteenwoordig word.

Daarenteen staan die aantal megajoule energie wat verbruik word, in ‘n direkte verband met aktiwiteit.

In Suid-Afrika was welvarende huishoudings, landbou, nywerheid, handel en treinvervoer teen die 1980’s bykans volledig geëlektrifiseer. Daarom word bykans elke landsburger deur beurtkrag geraak.

Sowat 60% van die land se vloeibare brandstof word tans ingevoer. Die land se ekonomie is daarom toenemend afhanklik van internasionale faktore en die afnemende vermoë van hawens. Asof dit nie genoeg is nie, word duisende kragopwekkers met petrol en diesel aangedryf.

Daar is wel ‘n klein deel van die ekonomie wat met die minste denkbare ontwrigting voortgaan. Dit is die huishoudings en ondernemings wat hulle reeds van konvensionele energiebronne bevry het. Dit behels nie net sonkrag- en batterystelsels nie, maar ook elektriese vervoer wat daaraan gekoppel is.

Die staat kan ‘n belangrike bydrae lewer om te voorkom dat die huidige krisis in ‘n ramp ontaard: Dit is om alle belasting uit die brandstofprys te verwyder en om die mark vir voorsiening van hernubare krag heeltemal oop te maak – buiten vir veiligheidsregulering.

Volgens die huidige trajek sal die staat binne die afsienbare toekoms groot lenings moet aangaan om die ekonomie te herstel. Die afskaffing van brandstofbelasting moet nie gesien word as ‘n verlies vir die staatskas nie, maar as ‘n manier om likiditeit in die ekonomie te voorsien.

Oopstelling van die elektrisiteitsmark kan dit vir huishoudings en ondernemings aantreklik maak om hernubare hulpbronne só te ontgin dat piektye ten beste van krag voorsien kan word. Dit kan ook help om die land se kragnetwerk in stand te hou.

Energievoorsiening in Suid-Afrika – en daarom die landsekonomie – kan ‘n ANC-regering nie langer bekostig nie.

Dit mag nou voel of 2024 nog te ver is, maar ‘n krisis van dié aard mag selfs die regering dwing om te bedank en sodoende ‘n verkiesing uit te roep. Anders sal Suid-Afrikaners nog op verbetering moet wag.

Related Articles

Back to top button