Opinion

BRIEF: ‘Jeugdag in Suid-Afrika het ‘n roudag geword’

'Jeugwerkloosheid staan op 66,5% en is besig om toe te neem. Die verwagting is dat dit tot 68% gaan toeneem in 2023' - VF Plus-LP en nasionale jeugleier.

• Tammy Breedt, VF Plus-LP en nasionale jeugleier skryf:

Jeugdag in Suid-Afrika bied niks om te vier nie en laat val eerder die kollig op die vele uitdagings en probleme wat jong mense in die gesig staar. Vir miljoene sonder enige toekomshoop het dit ’n dag van rou geword.

Al wat die ANC-regering jaar na jaar aanbied om die situasie te verbeter, is retoriek en niksseggende gebare soos ’n bespreking van Jeugdag in die parlement. Woorde sonder gebare het die jeug van Suid-Afrika in die steek gelaat. Hulle het niks om voor dankbaar te wees nie.

Koue statistiek skets die dilemma waarin die ANC die jeug gedompel het: Jeugwerkloosheid staan op 66,5% en is besig om toe te neem. Die verwagting is dat dit tot 68% gaan toeneem in 2023. Werkloosheid is nie die enigste vraagstuk nie en geweld raak ook toenemend ’n probleem. Moord op kinders (0 tot 17) en vroue het binne ’n jaar opgeskiet met onderskeidelik 37,2% en 17,5%.

Die gewelddadige sterftes onder vroue en kinders kan vergelyk word met die sterftesyfer in Oekraïne. Die verskil is dat Suid-Afrika nie in ’n oorlog gewikkel is nie.

In bendegeteisterde gebiede soos die Kaapse Vlakte is die lot van kinders selfs erger. Voorvalle in Amerika waar skoolkinders geskiet word, is groot nuus,soos dit moet wees. Waarom is die voorvalle waar kinders in bendegeweld omkom dan minder nuuswaardig?

Hierdie voortdurende blootstelling aan geweld en ander maatskaplike faktore laat jeugdiges self na geweld gryp. Die departement van korrektiewe dienste het hierdie week gesê daar heers groot kommer oor die feit dat daar tans meer as 42 000 jeugmisdadigers in die land se tronke is.

Hierdie skokkende statistiek verteenwoordig die realiteit van die omstandighede van jeugdiges in Suid-Afrika. Daar is inderdaad geen rede om Jeugdag te vier nie.

Dit het eerder ’n roudag geword waarop oordink moet word wat die dag kon en sou wees indien die ANC die verlede nie belangriker as die hede geag het nie.

Suid-Afrika se jeug verdien beter as die ANC.

Related Articles

Back to top button