OPINIE: Die Bokke bring weer hoop!

Binne drie jaar (2020 uitgesluit omdat die Bokke glad nie in aksie was nie) het ons nasionale rugbyspan soveel vermag en talle verkeerd bewys. Hoekom kan ek en jy nie dieselfde doen nie?

• Die redakteur skryf:

As daar nie hoop is nie, wat bly oor?

Wanneer jy soggens opstaan moet daar ‘n vorm van hoop wees – om geld te verdien, suksesvol te wees, vir jou familie te sorg, jou heel beste te lewer, beroemd te word of om ander te help – nie waar nie?

Kom ons gebruik die Springbokke as ‘n voorbeeld.

Springbok-rugby het lank ‘n donker tydperk beleef. Kom ons begin met die Wêreldbeker in Engeland in 2015 die skoknederlaag van 34–32 teen Japan. Dit bly tot vandag toe ‘n bitter pil om te sluk. Tydens die Rugbykampioenskap in 2016 het die Bokke slegs twee wedstryde uit die ses gewen en dus vier verloor, wat twee groot nederlae teen die All Blacks insluit – ‘n loesing van 41–13 in Nieu-Seeland en ‘n pak slae van 57–15 in Durban. Al die wiele het begin afval.

Teen die einde van daardie jaar het die spaarwiel ook afgeval toe ons om die een of ander rede met 20–18 teen Italië verloor het. Maar ek’s nog nie klaar nie … In 2017 se Rugbykampioenskap was dit dieselfde frustrerende storie. Ses gespeel, twee gewen en vier verloor – wat nog ‘n groot drag slae van 57–0 teen die All Blacks insluit. Tydens die jaareindtoer verloor ons boonop 38–3 (met 35 punte!) teen Ierland … ag nee man!

Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe op pad doellyn toe om die wendrie in die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus te druk. Hy was een van die uitblinkers in die reeks. Foto: Johan Orton/Rugby 365

Daar’s groot kommer, ek raak verbouereerd en vra: ‘Wat gaan aan met die Bokke?’

Toe kom Rassie …

Sy heel eerste wedstryd as afrigter in 2018 was wel ‘n 24–22 nederlaag teen Wallis, maar ‘n 2–1 reekssege teen Engeland en die oorwinning van 36–34 teen Nieu-Seeland in Wellington tydens die Rugbykampioenskap was genoeg bewyse dat dinge weer goed sal gaan. Dit het ook weer hoop gebring. ‘n Jaar later, in 2019, het die Springbokke ‘n verkorte Rugbykampioenskap-titel ingepalm, Wêreldbeker-glorie in Japan ervaar, en twee jaar later het ons wragtig die reeks 2–1 teen die magtige Britse en Ierse Leeus in die sakkie. Wat meer wil jy hê?

Binne drie jaar (2020 uitgesluit omdat die Bokke glad nie in aksie was nie) het ons nasionale rugbyspan soveel vermag en talle verkeerd bewys. Hoekom kan ek en jy nie dieselfde doen nie?

Die Springbokke staan gereed om die volkslied voor die derde en laaste toets teen die Britse en Ierse Leeus te sing. Foto: Johan Orton/Rugby 365

My punt is dat dit nie saak maak waar jy was nie, maar waar jy nou is. In sport is daar ‘n sêding ‘Jy is net so goed soos jou laaste wedstryd’ en die Bokke is die toonbeeld daarvan.

Dankie Bokke, julle bring soveel hoop!

Eben Etzebeth op die podium nadat hy sy medalje as lid van die reekswenspan ontvang het. Foto: Johan Orton/Rugby 365
Exit mobile version