Eskom of Esgaan?

Bykans elke munisipaliteit skuld hulle miljoene.

• Corrie Louw van Randgate skryf:

Die pas waarteen Eskom die krag in Randfontein en blykbaar regoor die land aan- en afskakel is betreurenswaardig, eintlik ’n skande in die moderne eeu.

Die gehalte van dienslewering is eintlik pateties en verdien niks anders as misnoeë, sommer opstand of ’n hewige toi-toi. Dit lyk al asof Jan Alleman, die publiek wat vir die lot gestem het se basiese regte en voorregte misken word.

Net vandag stap ek in Randgate en merk dat die plaaslike munisipaliteit se vragmotor besig is met vullisverwydering. Aggenee! Nadat die dromme inderhaas opgelaai is, bly daar ’n helse gemors in die strate oor, te sien op verskeie plekke of punte. Ongelukkig het ek nie ’n kamera by my gehad nie.

Dit bring mens by die punt dat jy betaal vir dienslewering, soos elektrisiteit. Baie van ons het voorafbetaalde meters. Jy staan dus in ’n regsverhouding of kontrak met die munisipaliteit. Dis ’n quid pro quo-situasie; in eenvoudige terme moet die raad uithaal en wys dit waarvoor jy betaal.

Maar nou kom die liewe Eskom, of Esgaan soos iemand hulle gedoop het, in die prentjie. En bykans elke munisipaliteit skuld hulle miljoene. My vraag is eenvoudig ‘wie se baba is dit’? En die krag word beurtelings afgesit, sommer tweekeer op een dag!

Wie gaan die moed van hul oortuiging hê om die hele kaboedel hof toe te sleep vir verlies aan inkomste, duur toerusting of persoonlike trauma as gevolg van beurtkrag? Ons wag vir en daag jonger regslui uit.

Of sal mens oorgaan tot georganiseerde weerhouding van gelde tot die irriterende spul uitgesorteer word, want genoeg is genoeg. Ek val nie meer vir Eskom se sieldodende verskoning van verouderde kragstasies of tegnologie nie. Hoe lank gaan dit nou al aan?!

Exit mobile version