Opinion

Tekens van die tyd

Ja, daar is heelwat mooi dinge om oor dankbaar en opgewonde te wees. Dis net jammer van die klein jakkalsies.

• Corrie Louw skryf:

Daar is tekens van die tyd. Ja, ook hier in Randfontein sien ons algemene tekens van die tyd waarin ons leef onder ons mense.

Ek voel om dit sommer algemene verslegting te noem, maar kan darem nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Laat ek verduidelik.

Gister, Sondag (31 Januarie), gaan stap ons uit verveeldheid ’n bietjie. In Randgate se amper verlate hoofstraat kry jy, middel van die dag, gelukkig op die sypaadjie, ’n man wat staan, die dronkste wat ek in jare gesien het. Hy staan en slinger op een plek, want hy kan nie eers loop nie. Tuis daag daar tydig en ontydig smouse en bedelaars op met vreeslike stories, sommige wat jy al vantevore gehoor het. Van hierdie siele probeer groot gemors aan jou verkoop soos verslete tweedehandse skoene, klere of selfs gebruikte babagoed!

Vandag is ek gou apteek toe in Randgate. Daar rond sien ek dieselfde jong mannetjie wat nou al omtrent twee jaar loop en bedel vir brood vir sy vrou en drie kinders. Genade tog.

Op Facebook het ek pas gelees van die senior dame wat hier in een van ons bekende woonbuurte van haar beursie met R400 kontant en al haar kaarte ontneem is. Die ou het selfs geld uit een van die kaarte probeer onttrek by ’n outobank. Darem is die beurse minus die kontant oënskynlik na pleidooie van die familie by ’n besigheid agtergelaat. Hierdie oortreder word nou orals gesoek. Voorts, in ons winkels en selfs op straat, loop mensies met sulke verstarde, leë gesigte jou as senior burger amper uit die poel uit. Jy moet uitdraai of wegswenk, maar nie die jongklomp van vandag nie. Dit maak mens warm om die kraag.

Ek het dit al vantevore genoem. Mense gaan voort om die inperkingsreëls te ignoreer deur nie maskers te dra of ’n afstand te behou nie. Dit geskied met so ’n argelose, windgatagtige houding. Sou jy vermaan, kry mens ’n vuil kyk of ’n smalende opmerking. My idee is nie om alewig gal te braak nie. Natuurlik is daar mooi oftewel positiewe gebeure en dinge. Ek weet van dames wat in my buurt gereeld kospakkies kom aflewer en nie omgee om vir gekleurdes ook ietsie te gee nie. Dan was daar die tannie wat teddies gebrei en uitgedeel het onder minder gegoedes. En daar is RSG, ons radiostasie wat dag na dag, 24 uur voortgaan om positiewe, broodnodige en mooi programme uit te saai in hierdie moeilike tyd. Ja, daar is heelwat mooi dinge om oor dankbaar en opgewonde te wees. Dis net jammer van die klein jakkalsies.

Uit belangstelling gesels jy met medemense oor dinge hierbo genoem. Gereeld kry ek die opmerking: ’Oom dis nie Covid se skuld nie, al van lank af sal die *%&@$ enige iets doen vir die volgende dosis drugs’.

Helaas, dis seker maar tyd dat die skole weer begin. Groetnis, hou die blink kant bo.

Related Articles

Back to top button