Geen deppers vir Covid-16 toetsing by die kliniek nie, wat nou?

'Wat my betref is dit 'n skande dat die betrokke kliniek nie eers deppers beskikbaar gehad het vir toetsing nie. Dit terwyl Randfontein 'n sogenaamde 'hot spot' is. Let egter daarop dat die personeel beweer het dat hulle wel deppers bestel het, maar nie gekry het nie. Dit is dus nie hulle skuld nie.'

• Anoniem skryf:

Ek verwys na die berig op bladsy 7 van die Herald van 29 Januarie 2021.

My seun het onlangs positief getoets vir Covid-19. Hy het by sy geneesheer medikasie gekry en was vir 14 dae in selfisolasie in sy kamer met eie badkamer. Hy woon by ons in die huis.

Hy was gelukkig en het goed gereageer op die medikasie en is reeds terug werk toe.

My probleem met die berig is dat daar beweer word dat die departement toegang het tot die name van alle positiewe gevalle hetsy in privaat of publieke klinieke. Die positiewe persoon word dan gekontak en gevra vir die name van persone met wie hy/sy in direkte kontak is/was.

Wel, wel, my seun is tot op datum nog nie gekontak nie en nog niemand het daardie persone getoets nie.

Ons is toe na ‘n plaaslike kliniek toe om ons te laat toets aangesien ek, my vrou en ons een kleindogter hoërisiko-gevalle is. Ek is 70, en het reeds twee omleidingsoperasies en ‘n hartklepvervanging gehad. My vrou is 69 en het reeds ‘n omleidingsoperasie gehad. Ons kleindogter het asma.

Daar was egter nie deppers (swabs) by die kliniek beskikbaar nie. Dit was ‘n Vrydag. Ons het toe gereël om die volgende Dinsdag te laat toets. Daar opgedaag is die eerste vyf mense getoets. Ons was volgende in die ry. Toe word ons weereens meegedeel dat daar nie nog deppers was nie en dat ons die volgende dag moes terugkom. Nodeloos om te sê, ons het eenvoudig nie weer gegaan nie. Tot vandag toe het niemand van die departement ons nog gekontak nie. Terloops, van watter departement word in die berig melding gemaak?

Ons ondervinding is dus dat daar geen opvolg gedoen word soos beweer word in die berig nie.

Gelukkig het ons voorsorg getref met streng higiëne, en is almal nog gesond.

Wat my betref is dit ‘n skande dat die betrokke kliniek nie eers deppers beskikbaar gehad het vir toetsing nie. Dit terwyl Randfontein ‘n sogenaamde ‘hot spot’ is. Let egter daarop dat die personeel beweer het dat hulle wel deppers bestel het, maar nie gekry het nie. Dit is dus nie hulle skuld nie.

Exit mobile version