Beloftes, beloftes – nog ‘n frustrasie vir bejaardes

Die voertuie vanaf Krugersdorp en dié op die pad van Leratong Hospitaal af jaag egter asof 10 duiwels agter hulle aan is.

• Anoniem skryf:

‘n Voetoorgang, stopstraat en ‘n spoedhobbel voor die ouetehuis oorkant die vulstasie is baie nodig.

Dié wat by die hoofingang van die oord is, is nie meer voldoende nie. Vroeër jare toe Randfontein nog ‘n lekker inkopiedorp was, was dit voldoende. Maar deesdae gebruik net ‘n paar inwoners en werkers die voetgangeroorgang.

Die inwoners wat nie meer hulle eie vervoer het nie, doen hulle noodsaaklike inkopies soos melk, brood, tydskrifte ens by die vulstasie se winkeltjie.

Hulle gaan by die hek oorkant die vulstasie uit en loop so vinnig as wat dit vir hulle moontlik is oor die pad.

Die voertuie vanaf Krugersdorp en dié op die pad van Leratong Hospitaal af jaag egter asof 10 duiwels agter hulle aan is.

Ook baie groot en swaar trokke gebruik dikwels verkeerdelik die pad. Toe die DA voor die vorige verkiesing werwing gedoen het, is vir ons belowe dat hulle aandag sal gee aan die probleem.

Navraag in die verband: Dit is goedgekeur en die Verkeersdepartement sal dit die een of ander tyd kom doen. Dit is al jare daarna en nog niks het van die beloftes gekom nie.

Intussen het talle paaie in Randfontein spoedhobbels gekry. Selfs Angelierstraat langs ‘n hoërskool spog met ten minste ses tot agt hobbels.

Maar die bejaarde inwoners se pad (Maughamweg 1) word oor die hoof gesien.

Die komitee van die rusoord is ook baie bekommerd oor ons bejaardes se veiligheid by die hek. Hulle het al probeer om die hek te sluit vir ons voetgangers, maar dit was nie suksesvol nie omdat die bejaardes baie produkte en selfs wegneemkos by die vulstasie se winkeltjie koop. (Onthou die meeste van hulle het nie meer hul eie voertuie om iewers heen te ry nie.)

Dit groot en swaar voertuie (vragmotors) is in elk geval nie veronderstel om die pad te gebruik nie.

Aangesien daar binnekort weer ‘verkiesingsbeloftes’ gemaak gaan word, kan die DA dalk probeer om hulle beloftes van die vorige keer na te kom. Die persone wat so maklik belowe het, is seker in elk geval nou weg?

Of sal ons eerder na die ander partye, soos die VF Plus, gaan om ons te help met die netelige probleem?

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version