Wat val nog op in die inperkingstyd

Corrie Louw skryf:

Gedurende die inperkingstyd sover was daar uitskieters en agterosse. Laasgenoemde kan dalk ook verloorders genoem word.

Dienooreenkomstig gaan daar ‘n bos rose aan die dames van die kerk of kerke wat so getrou regdeur onder moeilike omstandighede hulle kant gebring het met aflewering van kospakkies waar nodig, insluitende groente en hier en daar ‘n lekkerny.

Vir seker weet ek dat die ontvangers dit baie en opreg waardeer het. Ja, ons vergeet nie van die manne wat soms agter die skerms hulle dinge doen nie. Hierdie onbesonge helde en heldinne weet wie hulle is.

Bossies brandnetels gaan aan diegene wat loop bedel en steel het. Ja, ek het eerstehandse ondervinding daarvan en kyk verder wat om my aangaan. Vir hoe lank al, van voor die virus se koms en die inperkingstyd kry jy bekende gesigte wat oral in Randgate loop en bedel. Van hulle is fris jongmanne, wat niks makeer en elke keer met dieselfde ou droewige storie uitkom oor sy vrou en kinders. Jy sien hom of haar op ?n afstand, leer vinnig en ontduik soos Cheslin Kolbe op sy beste.

Natuurlik bloei my hart vir diegene, en ‘n ou gee ietsie hier en daar. Die probleem is, waar trek jy die streep? En, vir seker kan jy nie almal help nie.

Rose gaan aan almal wat dit regkry om vriendelik te bly in hierdie tyd. Ek sien darem gewone burgers, klerke, winkelassistente, besigheidsmense ensovoorts wat nog glimlag of ‘n praatjie deel. Kom ons gooi ‘n klip in die bos en gee ‘n bos brandnetels aan veral plaaslike politici, by name raadslede ensomeer.

Van die lotjie is wat my betref net mooi niks gesien of gehoor hier rond. Die klompie is seker êrens op pad met die soustrein, oftewel die gewraakte gravy train’.

‘n Mens sien darem hier en daar die geregsmense rondbeweeg, alhoewel ek meen dat hulle ‘n redelik lae profiel handhaaf in Randgate.

Trokke vol brandnetels gaan aan winkels wat hulle pryse definitief laat klimtol in die afsonderingstydperk. Ek het die met my eie ogies en ore waargeneem. In sommige gevalle, nevermaaind die sigarette, word daar gewetenloos opgetree en die publiek uitgebuit.

Dank en bossies rose gaan aan die persone wat die siekes onbaatsugtig en met risiko versorg. Ook aan die mensies wat altyd maskers dra en die reëls gehoorsaam. So ook was my radiostasie strykdeur ‘n steunpilaar. Die omroepers en personeel het sonder onderbreking ook met behulp van virtuele tegnieke mens aan die gang gehou en gereeld van vars nuus voorsien.

Ons dank gaan aan ons Skepper, wie Hy of Sy ook al is in jou persepsie. So kon ons met huis oftewel tuisdienste en gebed en meelewing vas bly staan. Die hoop is ook daar dat die virusverspreiding gerem sal word en inperking die een of ander tyd gestop sal word.

Exit mobile version