G’n omgee vir jou medemens nie

Corrie Louw skryf:

Ek het pas wettiglik ‘n entjie in Randgate gaan stap, ook om gou ietsie by die apteek te gaan koop.

Binne sowat 10 minute het ek vir die soveelste keer dinge gesien wat my laat besef het medeburgers staan onverskillig teenoor die virusinperkingsreëls, of vee hulle sommer net daaraan af.

Dit word bevestig deur nasionale nuus op die radio en TV wat mens getrou volg vanwee die erns van die situasie. Volg maar net hoe die infeksie en dodetal nou geweldig in Gauteng styg, dit wil sê hier rondom ons.

Mense versuim doodgewoon om maskers te dra of dit behoorlik aan te sit. Dit help veel om sigaret in die mond, maskerloos of met die masker afgeskuif gesig teen gesig met ‘n ander een te staan en gesels sonder enige bekommernis. Daar is geen sprake van die 1,5 meter of sosiale afstand nie.

Al wat ‘n mens is kom staan sommer hier teen jou in of by die winkels. ‘n Vraag: Waarom is dit vir winkels nodig om met uitgawe hekwagte aan te stel?

Waar is ons eie verantwoordelikheidsin of omgee vir die medemens?

Ek word eerstehands vertel dat sommiges die virusprobleem aflag en prontuit sê dit sal hulle groep nie tref nie. Nog ander belaglike bewerings word in dié verband gemaak.

Hoeveel moet nog doodgaan of siek word, hoe lank nog moet ons ingeperk bly voordat die volkie gaan luister? Ja, ek sien steeds hoe taxibestuurders hier in Randgate voortgaan om te doen net wat hulle wil, op so ?n renegaatagtige wyse.

Hoe klink dié: ‘n Betroubare bron vertel van mense wat bladsye uit die Bybel skeur om ‘n zol te draai!

Exit mobile version